Refentse Morake ontvang die KKNK-prys vir Jong Stem.

Foto: Verskaf

Die hele ketoetie – dít is wat feesgangers van Saterdag, 1 tot Sondag, 9 April by die 27ste KKNK, geborg deur Absa, op Oudtshoorn kan verwag.

Vanjaar se feesprogram bied iets in almal se smaak. Die feesdatums val in die skoolvakansie en sluit Paasnaweek in.

Feesgangers by dié familiefees kan uitsien na meer as 30 debuutwerke en ook ’n keur van die beste produksies van die afgelope jaar by ander feeste en teaters.

Individue word vereer

Vyf individue word vereer vir hulle bydrae tot die KKNK en die kunste: Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking; Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys; Refentse Morake ontvang die KKNK-prys vir Jong Stem en Liza Grobler is die Feeskunstenaar. Magdaleen Krüger ontvang die KKNK-prys vir Lewensbydrae.

Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys

Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys.
Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking

Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking

Toneelstukke op die program

Nicola Hanekom keer terug na die fees met ’n plekspesifieke toneelstuk Mirre en aalwyn, wat buite Oudtshoorn op ’n plaas aangebied word met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen.

Reza de Wet se drama-komedie Mirakel, onder regie van Marthinus Basson, moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) met Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis, vertel die storie van ’n teatergeselskap in die 1930’s wat hulleself in ’n klein dorpie bevind en voor moeilike besluite te staan kom.

Die veelbekroonde Karoo Kaarte-span vanuit die Oudtshoorn-gemeenskap, bied Droomkraan Kronieke aan, met onder andere Carlo Daniels, Janion Kennedy en Marinda Ntantiso. Hulle span kragte saam met ontwerper en poppemeester Craig Leo, vir ’n produksie perfek vir die hele gesin.

Ander debuutwerke sluit in: Bul, ’n donkerkomedie onder regie van Nicole Holm met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa.

Vlaamse skrywer Tom Lanoye se Die fel omstrede kroon, Edward II en Gaveston met Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Rolanda Marais, André Roothman, Wilhelm van der Walt en Caleb Payne, kyk vlymskerp na liefde, mag, keuses, en die plek van die individu in die samelewing.

My Kroon se krank, ’n teks deur Veronique Jephtas en Lynthia Julies, met Jephtas wat ook in die solostuk speel, is onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Lee-Ann van Rooi as vervaardiger.

Lizz Meiring deel in Van die rak af (uitgawe 1) meer oor die konsep van “The Human Library” – in plaas van ’n boek, neem jy ’n mens uit.

Gewilde komediante is ook by die fees: Rob van Vuuren se debuut van Namaste Bae – Blessing and Kombucha; Alan Committie, en Alfred Adriaan: Onfiks en veertig, asook die gewilde Moses Williams van die Oudtshoorn-streek se debuut van Ouma Sarie: Funny Karoo is op die verhoog te sien.

Topproduksies van ander feeste en teaters wat te sien is, sluit in: ’n Akkerboom met De Klerk Oelofse; Die moeder met onder andere Sandra Prinsloo en Dawid Minnaar; Mutton Hour met Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt; Platform 9: Homecoming met Theodore Jantjies en Maurice Paige; Steeds Donkie met Frank Opperman; Charles J. Fourie en die Markteater se The Parrot Woman met Gontse Ntshegang en André Lötter; Jantjies and the Pearls, geskryf deur Mikayla Joy Brown, vertel die storie van ’n desperate familie van Distrik Ses wat vasberade is om hul huis van die gedwonge verskuiwings te red. 

Op die musiekfront

David Kramer bring ’n splinternuwe musiekblyspel na Oudtshoorn in Ver in die wêreld Kittie, met Dean Balie, Jenny Stead, André Terblanche, Rushney Ferguson en Dylan Roman.

In Coenie de Villiers se Woordmusiek bring hy drie teaterlegendes byeen: Antoinette Kellermann, Vinette Ebrahim en Jana Cilliers sluit by hom aan saam met Mauritz Lotz, vir ’n uitsonderlike musiek- en woordervaring.

Ander debute op die musiekprogram sluit in Amber/Ombré met Amanda Strydom, Coenraad Rall en Susan Mouton; Anders/Eenders met Sima Mashazi, Schalk Joubert, Louis Mhlanga, Riaan van Rensburg en Ramon Alexander; Daarom skryf ek met Anna Davel, Jaconell Mouton en Lou-Ann Stone; ’n Blom in elke vrou met Petronel Baard, die Suid-Kaap-kinderkoor en Mosselbaai-strykensemble en Boeremusiek, Rocco-styl met Rocco de Villiers, Lizelle le Roux en Hansie Roodt jr.

Opelugmusiekkonserte is weer terug en dié program begin met ’n twee-dag musiekfees AMOK! op 1 en 2 April, met van die land se gewildste bands en sangers – wat binnekort bekendgemaak gaan word.

Ander konserte sluit in Spoegwolf en vriende, en ’n konsert met Nataniël op Paassondag. Kaartjies na die opelug-aandkonserte sluit toegang tot die Feesmark vir die dag in.

Visuele kunsprogram

Vanjaar se visuele kunsprogram, saamgestel deur kurator Dineke van der Walt onder die tema Hide & Seek: Reimagined Histories, bied iets vir almal.

Uitstallings deur verskeie Oudtshoorniete is ingesluit en ’n visuele kunshoogtepunt is Fragments from Into the Light, waar die werk van Phumulani Ntuli, Lebohang Kganye en Roger Ballen uitgestal word.

Figure of 8 Dance Collective is te sien in twee dansteaterproduksies: Embody You, asook Karatara, wat verlede jaar met die Kanna-prys vir beste debuutwerk bekroon is.

Verskeie kinderteaterproduksies sorg vir hope vermaak vir die jongspan. Die Kanna-bekroonde Liewe Heksie-span van 2022, Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl, keer boonop terug in Liewe Heksie vang vis.

Baron van Reedestraat word oudergewoonte gesluit en is die hartklop van die fees met hope gratis vermaak, eet- en drinkgoed. Die Lucky Pakkie-teateraanbod skuif hierheen.

’n KKNK Jeugkunstefees word vir die eerste keer van 1 tot 4 April, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied en is spesifiek gemik op hoërskoolleerders en -onderwysers.

  • Die volledige feesprogram is op die KKNK se webblad beskikbaar. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, of Pick n Pay. Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of kontak die kantoor per e-pos by info@kknk.co.za, stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337 of skakel 044 203 8600.
 UITGEREIK DEUR DIE KKNK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article