Daar is nog nooit voorheen ’n drama-reeks verfilm in Port Elizabeth vir die SAUK nie.
Só het Danie Matthee gesê. Maar daar is ’n eerste keer vir alles. Die eerste episode van Kniediep in die Warm Water, wat hier in PE verfilm is, sal vanaand op die kassie verskyn.
Matthee, welbekend in die plaaslike drama- industrie, het die oorspronklike toneelstuk meer as ’n dekade gelede geskryf.
“Ons het die verhoogstuk al opgevoer, lank terug,” het hy gesê. “Die TV-reeks is heeltemal anders. Daar het nuwe karakters bygekom en die storielyn is ook nie dieselfde nie.”
Matthee is ’n mede-vervaardiger van die sitkom, saam met Colin Ward and Nicola Barbour van Sunshine Coast Studios, wat ook in die Baai gebaseer is.
Begin by die begin
Ward en Barbour het al naam gemaak in die industrie en by die SAUK met ’n paar episodes van die dokumentêr Issues of Faith asook met Slice of Life.
En tussendeur dié projekte het hulle op Kniediep in die Warm Water afgekom.
“Die SAUK was op soek na ’n komedie, spesifiek ’n Afrikaanse komedie. Ek is baie Engels so ek het geweet ons het ’n Afrikaanse mede-vervaardiger nodig,” het Barbour gelag.
“Ons het gehoop Danie het dalk ’n komedie en hy kom toe vorendag met die toneelstuk Kniediep in die Warm Water wat voorheen op die verhoog was,” het Barbour gesê.
“Danie is bekend vir komedie en hy wou nog altyd een van syne op die skerm hê.”
Luidens haar is dit nogal ’n proses om ’n voet in die deur te kry. Hulle moes eers skriftelik aansoek doen en toe in persoon die voorlegging aanbied. Eindelik is dit aanvaar en hulle is gevra om dit te vervaardig.
“Dis nogal ’n groot taak om aan te pak. Ons het nog nooit iets so groot gedoen nie,” het Barbour gesê.
Dit was net die kersie op die koek toe David Lister sy jare se ondervinding aan die projek geleen het as regisseur.
Hulle het geveg vir PE
Toe die SAUK die projek aanvat wou hulle dit in Kaapstad of Johannesburg laat verfilm.
“Ons het gesê nee, ons wil dit hier doen met ons mense,” het Barbour gesê.
“Port Elizabeth is regtig nuut in die industrie. Ons wou nog altyd die plaaslike industrie groei, en belê in die Baai se mense, voor én agter die kamera.”
Volgens haar was hulle grootste uitdaging om genoeg spasie in die hande te kry om die stel te bou. En toe kom die idee van ’n kerksaal.
“Sal jy glo ons het toe na die NG Kerk Sonheuwels in Westering gegaan en hulle het ’n mooi groot saal daar. Ons het die saal gehuur en dit in ’n studio omskep.”
Hulle betrek toe nog ’n plaaslike ou by die projek toe Fred Kohler vir hulle die stel gebou het.
“Sy familie was in die toneelbedryf betrokke, maar hy het nog nooit so iets aangepak nie. Hy is eintlik die man wat my ma se kombuis gebou het,” het Barbour gelag.
“En hy het die stel uitstekend gebou. Toe Johannesburg se akteurs hier aankom, kon hulle dit omtrent nie glo nie.”
Die span het vir drie dae die buite-opnames in Somerstrand afgeneem voordat hulle die res op die stel in Westering aangepak het.
“PE se mense sal die skote van ons stad herken, veral die beachfront,” het Barbour bygevoeg.
Dit was veral vir Matthee spesiaal om die projek in die Baai te kon doen. Hy het skoolgegaan op Despatch en bly al sedert 1990 in Port Elizabeth.
“Ek is bly ons kon dit hier doen. Ons kon toe werk skep, geleenthede gee en mense oplei wat dit andersins nie sou kry nie,” het hy gesê.
Verskeie spanlede wat by grimeerkuns, haarstilering en kostuumontwerp betrokke was, is ook van die Baai.
Baaise talent ook volop vóór die kamera
Barbour het Kniediep in die Warm Water beskryf as “’n lekker gesinsprogram gemeng met ’n titseltjie kattekwaad”.
Dit vertel die skreeusnaakse manewales van die onbevoegde personeel van Wonderwaters, ’n boetiek-hotel en spa in Port Elizabeth.
Welbekende Afrikaanse akteurs soos Chanelle de Jager en Jacques Gombault gaan die skerm deel met verskeie akteurs van Port Elizabeth.
Hulle sluit in Fiks Mahola, wat destyds as Simphiwe op 7de Laan te sien was, Lize-Mari Arthur, Benito Carelsen en Heather Baartman.
“Ons was gelukkig om belangstelling van wonderlike akteurs te kry,” het Barbour gesê.
Ná jare in die plaaslike drama-industrie was die oudisies niks nuut vir Matthee nie.
“Ons het oop oudisies gehou. Ek het ook vir al die mense met wie ek al gewerk het deur die jare op die verhoog laat weet om te kom vir ’n oudisie,” het hy gelag. “Dis ’n baie lekker span.”
Hy geniet dit veral dat van die akteurs ook by die oorspronklike toneelstuk op die verhoog betrokke was, soos Lize-Mari Arthur en Clara Joubert van den Bergh.
Hy het ook al verskeie kinderproduksies saam met Arthur, ’n omroeper by Kingfisher FM, gedoen.
“Heather ken ek ook persoonlik van toe sy op skool was,” het hy bygevoeg. Baartman was in DF Malherbe waar Matthee se dogters ook skoolgegaan het.
Die meerderheid van die gaste wat in die sitkom verskyn is ook van Port Elizabeth.
Begin solank die minute tel…
Kniediep in die Warm Water se Facebook-blad het die publiek reeds vanaf 30 Junie begin uitlok deur elke dag ’n ander karakter voor te stel.
Netta, die huishoudster, Rochelle die masseuse, Johan die sakeman, Darne die bemarkingskonsultant . . .
“Ons is net so dankbaar vir hierdie geleentheid om the best of the Bay op die kassie te kan vertoon,” het Barbour gesê.
“Dit was regtig soos ’n tuimeltrein; alles het so vinnig gebeur in vergelyking met hoe ons dinge gewoonlik doen.
“Nou met al die harde werk agter ons is ons baie opgewonde oor dit wat kom. In vandag se tyd het ons almal ’n bietjie goeie nuus nodig en dis regtig wonderlik om te kan deel wees daarvan.”
Die hoogtepunt vir Matthee was om so iets te kon doen vir die eerste keer in geskiedenis.
“Die skryf, om nuwe idees te skep en uit te dink, is altyd lekker, maar dit voel vir my meer soos werk. Om te sien hoe ’n hele klomp talentvolle mense bymekaar kom en aan dieselfde ding werk en eintlik lewe te gee aan dit wat jy in jou kop uitgedink het – dit was iets besonders. Party dinge gebeur presies soos jy gehoop het en ander glad nie,” het hy gelag.
Sy grootste wens is dat mense Kniediep in die Warm Water ’n kans sal gee.
“Mense moet nou nie ’n besluit neem net ná die eerste episode nie; hulle moet darem so rukkie gee om in die ding te kom.
“As die mense kyk en daarvan hou dan kry ons dalk nog ’n seisoen en dan kan ons weer werk hier in PE.”
- Kniediep in die Warm Water sal vanaf 8 Julie elke Woensdagaand om 19:30 op DStv-kanaal 192, SABC 2, verskyn.




