GQEBERHA – Die Algoapark-stoeiklub in die Baai is in die sewende hemel nadat een van sy lede in drie kategorieë Protea-kleure gekry het.
Stefan Roberts (15), leerder aan die Hoërskool Framesby, is met groot verwagtinge na die nasionale proewe op Secunda, min wetende dat hy die gunstelinge sou verras deur as wenner uit die stryd te tree in die Grieks-Romein, vrystyl en strandstoei-afdeling.
Hiermee is hy gekies om van 27 April tot 2 Mei aan die Afrika-kampioenskappe in Egipte deel te neem.
Sedert hy vier jaar gelede begin stoei het, het hy besondere talent gewys.
Stefan is selde op sy beste tydens die klub se oefensessie, want wanneer hy sy voete saans op die stoeimat sit het hy reeds ‘n volle dag van landloop, krieket en/of rugby gehad.
Noudat Suid-Afrika kennis geneem het van dié uiters talentvolle stoeier, begin sy internasionale loopbaan in alle erns.

Grobbies Grobler, president van Algoapark se stoeiklub, sê wat Stefan vermag het, het nog nooit in die OP se geskiedenis gebeur nie.
“Dis ongelooflik. Absoluut fantasties!
“Dis vir ons as Algoapark-klub ‘n groot eer om Stefan as lid te hê. Ek weet die hele OP is trots op hom.
“Wat Stefan se prestasie nog meer merkwaardig maak is dat dit die eerste keer was wat hy aan die nasionale proewe deelgeneem het. Dít wil gedoen wees.
“Ek wil egter almal bedank wat tot Stefan se Protea-kleure bygedra het – die afrigters, beamptes en administrasie. Dan kan ek ook net dink hoe trots Framesby op hom is,” sê hy.
Met Stefan wat sowat R65,000 gaan benodig, hou die Algoapark-klub op 18 April ‘n fondsinsameling met ‘n veerpyltjietoernooi.
Twee-en-dertig mans en agt vroue sal in aksie wees teen R50 per persoon.
Sestien kinders sonder 18 jaar sal ook hul slag voor die bord wys.
Daar sal ook heelwat eet- en drinkgoed te koop beskikbaar wees.
Geen klubspelers sal toegelaat word om deel te neem nie.
Spelers wat belangstel kan met Riaan op 084 665 4806 en met Stephanie by 078 872 6196 in verbinding tree.






You must be logged in to post a comment.