Die Nelson Mandelabaai-metro se gemiddelde daaglikse waterverbruik het gedurende Desember met 8 megaliter gestyg vergeleke met die voorafgaande maand.
Dit terwyl die metro se opgaardamme se gesamentlike gemiddelde watervlak tans op net meer as 19% staan en ’n voortslepende droogte in die streek ervaar word.
Weens die heersende lae watervlakke het die departement van water en sanitasie ook verlede jaar streng beperkings op onttrekkings vanuit die opgaardamme in werking gestel, wat die daaglikse waterkwota tot 230 megaliter verlaag het.
Die grootste beperking is op die Kougadam geplaas, wat beteken die metro kan slegs 15% van sy waterkwota hieruit onttrek. Dié dam verskaf grootliks water aan die westelike dele van die metro wat onder meer KwaNobuhle, Malabar, Helenvale, Missionvale, Algoapark, Veeplaas en Zwide insluit.
Ondanks die beperkings word steeds te veel water per dag gebruik.
Volgens Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het die metro in November ’n gemiddeld van 277 megaliter water per dag gebruik. In Desember het die gemiddeld tot 285 megaliter per dag gestyg.
“Ons is bewus van die feit dat die stad oor die afgelope twee weke toeriste en besoekers gehad het wat tot ’n bykomende vraag na water gelei het, maar ons moet aanhou water spaar.”
Die gemiddeld van die eerste drie dae in Januarie se waterverbruik het tot dusver wel op ’n daling tot 265 megaliter neergekom.
Volgens Mniki is die waterverbuik tans ’n gemiddeld van 267 megaliter per dag.
Mniki sê die metro oorweeg nie tans beurtwater nie, maar het wel ander maatreëls ingestel om waterverbruik te verminder. Dit sluit in die verlaging van waterdruk en watervloei na woonbuurte waar te veel water gebruik word.
Hy sê hoewel onlangse reën tot ’n effense styging in watervlakke gelei het, is Januarie tot Maart gewoonlik die warmste en droogste tydperk in die stad asook in die opvangsgebiede en daarom is dit belangrik dat waterverbruik steeds verminder word.
’n Gemiddeld van 230 megaliter waterverbruik per dag is waarvoor die metro mik.
“Dit is nie moeilik om waterverbruik te verminder nie, dit verg net ’n bietjie moeite op individuele, huishoudelike en besigheidsvlak. Vergeleke met die risiko om nie lopende water of werkende (spoel-)toilette te hê nie, is dít beslis ’n geringe ongerief.”





