Anita Gerber skryf verhale oor eksotiese bestemmings waar liefde en romanse nog hoogty vier.


Anita Gerber, ’n skrywer van Gqeberha, se kortverhaalbundels, Kleurpalet en Edelblom, het onlangs by KREATIV SA verskyn.

Dit is twee aantreklike hardebandboeke met glansomslae en kleurvolle plekhouerlinte. Daar is ook mooi foto’s, sketse en skilderkuns in die boeke waarin twaalf verhale elk is. Dit is mooi, skoon stories wat herinner aan die beminde en tydlose verhale van ons ou bekende liefdesverhaalskrywers.

Gerber het aan die Hoërskool Pearson gematrikuleer. Sy was ook verbonde aan die PE Drama-ateljee en Kinderteater waar sy in haar matriekjaar ’n medalje van die ATKV gewen het vir die beste aktrise in Kaapland. Sy het later ’n UDSD verwerf.

Deesdae skilder en skryf sy graag.

Skrywers soos C.J.Lagenhoven, Totius, Elisabeth Eybers, Mikro en Jane Austen se werke inspireer haar. Sy skryf in suiwer Afrikaans, want haar taal is haar trots. In haar mooi en skoon liefdesverhale plaas sy die klem op die ontluikende romanse tussen held en heldin.

Haar eggenoot, Gerrit, en Myra Lochner, die eienaar van KREATIV SA, het haar aangemoedig om die pen op te neem.

Gerber se verhale speel af op eksotiese plekke danksy haar en Gerrit se liefde vir reis. Egipte is die een land wat sy nie self besoek het nie, maar Gerrit wat die land om besigheidredes besoek het, se vertellinge en foto’s het haar verbeelding geprikkel. Sy het daaroor begin skryf.

“My verhale voer lesers na eksotiese bestemmings waar liefde en romanse nog hoogty vier,” sê sy.

Die lokteks agterop Kleurpalet lui: “Die meesleurende skryftrant is tydloos, maar bevat tog impressionistiese elemente uit die kleurpalet van fantasie. Die ondertone van die Onverklaarbare is terapeuties”.

Edelblom word beskryf as “verhale met die edelsteen en blom wat geassosieer word met elke maand van die jaar as tema”.

Lesers kan getekende kopieë van Kleurpalet en/of Edelblom bestel deur ’n e-pos te rig aan Gerber by gerrie@microq.co.za. Die koste is R150 elk (afleweringskoste uitgesluit).

Die twee kortverhaalbundels, ‘Kleurpalet’ en ‘Edelblom’ is nou beskikbaar. Foto: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article