AfriForum
se Walker Drive-buurtwag in Sherwood, Gqeberha het op 27 Junie
ondersteuning op ’n toneel gebied waar ’n lyk gevind is.
Dit volg nadat ’n
noodroep ontvang is van ’n lewelose liggaam wat agter ’n Baywest
Mall-advertensiebord gevind is. Met hul aankoms het die buurtwag die polisie,
plaaslike veiligheidsmaatskappye en ander nooddienste na die toneel ontbied.
Die
buurtwag het die toneel intussen beveilig dat geen leidrade verlore gaan nie.
Die polisie se speurders het onmiddellik die toneel oorgeneem met hul aankoms.
“Ons
bedank die verskillende veiligheidsinstansies – waaronder die SAPD, Atlas
Security, Omega Risk Solutions, Extreme Security en CityWide Security – wat
binne minute op die toneel was,” sê Hannes Oosthuizen, leier van AfriForum se
Walker Drive-buurtwag.
Die
Walker Drive-buurtwag het op 26 Junie ook op ’n noodroep gereageer oor ’n man
onder ’n brug by die N2 wat nie by sy volle bewussyn was nie. Met hul aankoms
het die buurtwag inligting aan Atlas Security deurgegee wat ’n metro-ambulans
na die toneel ontbied het. Die nooddienste het die pasiënt na die hospitaal
gebring.
“Ons
AfriForum-buurtwaglede reageer gereeld op noodroepe op hul sosiale- en
noodplatforms. Ons buurtwaglede is bewus van die gevare wat elke situasie inhou
en word toegerus met alle nodige toerusting en kennis om hulself te beveilig.
Hulle ontvang ook opleiding oor onder meer toneelhantering, regsaspekte en
patrollies om te verseker dat hulle die gemeenskap binne die raamwerk van die
wet kan ondersteun,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder
vir die Oos-Kaap.
“Hierdie
voorvalle is weereens ’n bewys daarvan dat AfriForum se spesialisopleiding,
toerusting en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is.
“Die feit
dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak
vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die
gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied
hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike
veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te
help,” sluit Van der Walt af.





