William van der Riet
William van der Riet by ’n deel van Hoërskool Cillié se sportgeskiedenis. Foto: Verskaf

Só vereer die Hoërskool Cillié sy Springbok-helde


‘n Unieke projek om die Hoërskool Cillié se Springbokke en Proteas te vereer word vanjaar voltooi om saam te val met die skool se 90ste bestaansjaar in 2027.

William van der Riet, wat in Januarie 1984 by die skool aangestel en in 2022 as adjunkhoof afgetree het, is die argitek van dié geskiedkundige foto-uitstalling.

Hy sê hy werk nou al drie jaar aan die projek wat ook ‘n gedenktuin in een van die skool se vierkante insluit.

Van der Riet sê die idee van die tuin is deur ‘n oud-leerder en later adjunkhoof, Gert van der Merwe, voorgestel.

Benewens hierdie projek, sien Van der Riet ook om na die meer as 100 inheemse bome en struike by die skool se sportveld.

Daar kry hy hulp van dr. Erika Jansen, ‘n oud-leerder en medebestuurder van dié projek.

Die duisende duwweltjies het hy met ‘n tuinvurkie met wortel en tak uitgeroei sonder om enige gifprodukte te gebruik.

William van der Riet
William van der Riet by ’n deel van die skool se sportgeskiedenis. Foto: Verskaf

Cillié se trotse nasionale verteenwoordigers wat teen die skool se mure pryk is: Gawie Carelse, Anton Barnard, Popeye Strydom, Dirk de Vos (rugby), Baldwin McBean (sewesrugby), Newton Kennedy (huidige hoof en Saru-vleuel in 1987), Anna van de Venter, Ria Strydom, Bennie Saayman (netbal), Veronica Meyer (vlugbal), Derek Hyman (paraplegiese atletiek), Abe du Mont, Leon Weitsz, Harold Saaiman (boks), Mark Gerber (bofbal), Sarie Seaman (judo), Rootie Rootman (diepsee-hengel) en Ronnie Ackerman (branderroei).

Dan het die Hoërskool Cillié ook Junior Springbokke en Gaselle-spelers opgelewer wat geen Springbokspan in die steek sou laat nie.

Van der Riet sê die projek lê hom baie na aan die hart en hy sal graag weer ‘n reünie van die skool se eerste rugby- en netbalspanne wil sien.

Hy sê hy is ook dankbaar dat van die skool se oud-leerlinge hom gehelp het om die legkaart van die foto’s te voltooi.

LEES OOK: KYK | Laerskool Dr. Viljoen groet vandag vir ‘Juffrou Zyl’

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article