’n BOETIEKHOTEL, ’n mensgemaakte eiland in die Noordeinde-meer, ’n wêreldklas-restaurant in die Nelson Mandelabaai-stadion, jaarlikse sport- en musiekfeeste, en standbeelde van sportlegendes wat die Oos-Kaap opgelewer het.
Dit is ’n paar van die spoggerige planne wat die Nelson Mandelabaai-stadion se bestuur het om dié stadion in Gqeberha beter te benut.
As deel van ’n reeks “opwindende aktiwiteite vir die provinsie se grootse sportbate” gaan Nelson Mandelabaai-stadion aanstaande maand gasheer wees vir die Home of Legends-sokkertoernooi, sê Anele Qaba, uitvoerende hoof van die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap (MBDA),
Die MBDA, ’n munisipale entiteit wat onder meer die stadion bestuur, het Woensdag die Home of Legends-sokkertoernooi, wat vir November geskeduleer, amptelik bekend gestel.
Vier van Suid-Afrika se top-sokkerspanne – Kazier Chiefs, Golden Arrows, Chippa United en Mamelodi Sundowns – gaan mekaar op 16 November die stryd aansê vir onder meer wengeld van R1,5 miljoen.
“Die Oos-Kaap word dikwels oor die hoof gesien wanneer groot sportwedstryde aangebied word. Die Home of Legends-toernooi sal egter die provinsie herposisioneer en aan almal wat twyfel dat ons wel in staat is om wêreldklas-sportbyeenkomste te kan aanbied, die teendeel bewys,” sê Qaba.
Hy sê dat daar nou groter dryfkrag is en voortgebou word op hul onlangse sukses.
Bafana Bafana het die Kongo Vrydag in die Nelson Mandelabaai-stadion met 5-0 uitgestof.
Hoewel Qaba weens “vertroulike ooreenkomste” nie wou uitwei oor wat die komende toernooi die metro uit die sak gaan jaag nie, beplan hulle ook al geleenthede vir volgende jaar.
“Daar is groot dinge wat ons vir hierdie stadion beplan. Vir 2025 beplan ons om weer die Home of Legends-toernooi aan te bied, asook om ’n Home of Legends-konsert sowel as ’n jazzkonsert langs die Noordeinde-meer aan te bied.”
Volgens Qaba moet die stadion, met plek vir 48 459 toeskouers, “sweet”.
Terwyl Nelson Mandelabaai in die wurggreep van misdaad is, glo Gary van Niekerk, burgemeester, dat die metro teen Desember vanjaar een van die veiligste metro’s in die land gaan wees. Hy het op Woensdag se bekendstelling ook gesê dat daar ernstig werk gemaak moet word om die metro se vervalle infrastruktuur te herstel.
“Ons kan nie net een klein gebied hê waar die ligte werk nie. Die hele stad moet ligte hê,” het hy gesê. Van Niekerk het ook na diegene gekap wat dalk nie te optimisties oor die komende toernooi is nie. “Ons is besig om vreugde te skep,” het hy gesê.
Bassie Kamana, burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur, en Sibulele Ngongo, die LUR vir dié departement, het gesê die planne vir die stadion sal ongetwyfeld bydra tot die ekonomiese welvaart van die provinsie.





