boksers
Boksgeskiedenis word op 4 April gemaak wanneer die eerste toernooi nóg in Newtonpark beslis word. Foto: Verskaf

GQEBERHA – Boksgeskiedenis word Saterdag (4 April) gemaak wanneer die eerste toernooi nóg in Newtonpark beslis word.

“Die VIP Boxing & Conditioning Club gaan die sport in die Baai vestig. Trouens, ek beplan om die Baai weer ‘n reus in amateur- en beroepsboks te maak,” sê die eienaar en afrigter, Vicky Phillips.

Sy is reeds 12 jaar lank betrokke by amateur-boks en nege jaar by die professionele vegters.

Tussen 10 en 16 gevegte sal op die program wees.

Die aksie begin om 11:00 in 15 Newtonstraat tussen Tweede en Derde Laan.

Vicky sê dit gaan nie net oor haar VIP-klub nie, maar sy is ook gemeenskapsgedrewe – alles om boks weer sy regmatige plek te laat inneem in die Oos-Kaap.

“Ons wil aan die voorpunt van die Baai se herlewing wees.

“Ek wil my boksers oorsee sien deelneem en Johannesburg se promotors uitdaag om te kyk wat hier in die Baai aan die gebeur is. En as hulle ons ignoreer sal ek seker maak hulle neem kennis van ons,” sê sy.

boksers nelson mandelabaai
Vicky Phillips is op haar gelukkigste tussen boksers. Foto: Verskaf

Vicky sê sy en haar gesin het van Oshikati Baai toe getrek toe sy net 16 jaar oud was.

“Toe was daar vir my as vrouebokser nie veel opsies nie. In my twintigerjare het ek van klub na klub gegaan, maar kon nie ‘n tuiste vind wat vir my soos ‘n bokshuis voel nie.

“So tien jaar gelede het ek besluit om toe te tree en boksers geleenthede te gee. Saterdag gee ons ons eerste groot tree na groot opwinding vorentoe,” sê sy.

Ringside Boxing van Kariega sal ook in aksie wees.

Ander geregistreerde Baaise klubs onder die VIP-vaandel is Hotspur’s Boxing Academy, United Boxing Club, Rainbow Boxing Club, Isiqalo Boxing Club, Fighting Prince, KwaZakhele Boxing Club, Ballistic Boxing Club, Caiph Camp, Ngeyethu Boxing Club, Vigorous Boxing Academy, Topstars Boxing Club en Ngeyethu Boxing Club.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article