OUD maar nog nie koud, dit is Margit Meyer-Rödenbeck se alter ego “Ouma” beslis.
“Ouma is oppad” gooi sommer ’n swierige draai in die Oos-Kaap met een vertoning wat op Kariega en twee in Gqeberha aangebied sal word.
Dowwe Dolla se Ouma het eintlik reeds einde 2021 saam met Dolla afgetree.
Maar nou wil almal steeds weet wie daai tannie was wat so aanstoot kon gee?
En toe besluit Ouma sy het nog ’n hele paar dinge om kwyt te raak. Ouma kom van Garies, ’n klein dorpie in die Noord-Kaap af.
En, soos meeste boorlinge van daardie wêreld, is sy ’n formidabele mens.
In die Knersvlakte durf jy nie doekies omdraai nie en dit pas so reg in Ouma se kraal.
Sy het al twee mans begrawe alhoewel haar bure vermoed die laaste een het net ingesluimer!
Met die dat haar kleindogter nou in die stad werk, en sy nou en dan daar moet gaan kuier, kom Ouma agter daar is baie dinge wat sy nie ken nie en die woordjie “takt” tel beslis daar onder.
Margit het nou reeds sedert die opening van Ouma by die Klein Karoo Kunstefees die land plat gereis en by al wat ’n kunstefees soos die Suidooster-, Aardklop- en die Woordfees opgetree en oral harte verower.
“Ek is ook as beste aktrise vir my rol in “Ouma is op pad” by die Aardklop-kunstefees genomineer, tik my om met ’n veer,” het sy verbaas gesê.
Met haar talent as aktrise gekombineer met storievertelling verdien sy dié toekenning uit en uit.
Jurgen Human dra by tot die suksesvolle produksie met sy hantering van die teks, lirieke en regie van die toneelstuk.
“Ouma is oppad” word by die Barklystraat-teater op Kariega op Woensdag, 30 Oktober om 19:30 opgevoer. Die deure open reeds 18:30. Die kaartjies kos R200 per persoon. Bel Heidi by 071 871 6940 om plek te bespreek.
Dit word ook op Donderdag, 31 Oktober en Vrydag, 1 November om 19:00 by die Hoërskool Framesby se Kultuursaal in Gqeberha opgevoer. Die kaartjies daarvoor kos R180 per persoon en kan by Computicket bespreek word.
Die ouderdomsperk is 14.





