Duiweboer Niezaam Jappie is in 2016, 2017 en 2018 as die OP Unie-kampioen aangewys. Foto:VERSKAF


NIEZAAM Jappie, ’n duiweboer van Somerstrand, is die trots van die Oostelike Provinsie Duiwe-unie (EPPU) in Uitenhage nadat hy vir ’n derde agtereenvolgende jaar as die OP Unie-kampioen aangewys is.

“Die EPPU spog steeds met meer as 200 lede wat aan wedvlugte deelneem. Dit is dus geen geringe prestasie om drie jaar agtereenvolgend as Unie-kampioen gekroon te word nie. Sover my kennis strek is Niezaam die eerste duiweboer in die EPPU wat dit kon vermag,” het Stefan Strydom, publisiteitsbeampte van die EPPU in Uitenhage, gesê.

Jappie (51) is in die loodgieterbedryf en glo vas dat sukses nie sonder harde werk kom nie.

As kind is sy belangstelling geprikkel toe sy pa vir ’n kort periode duiwe gevlieg het.

Gedurende 2010 het Jappie vyf Tom Lock/Spritzy/André Carelsen-kruisings by Jason Ross gekoop. Vele verdere aankope op veilings het gevolg, maar die meeste sukses is met hierdie eerste vyf duiwe se nageslag behaal, het Strydom vertel.

Vanaf begin April en gedurende die vliegseisoen word die geslagte duiwe bymekaar gehou en gaan hulle saam na alle oefenvlugte. Geen oefening vind ooit om die hok plaas nie, net padwerk. Sondae word die vliegduiwe gerus, Maandae tot die dag voor mandjiedag kry alle duiwe ongeveer 80km padwerk in die oggend en ongeveer 25km net voor skemer.

“Niezaam het in 2014 met Piet Steenkamp van Boesmansriviermond bevriend geraak. Piet is ’n ou hand wat gereeld saam kuier met kampioene en hy tree as mentor vir Niezaam op en is in werklikheid die afgelope drie seisoene Niezaam se stille vennoot,” het Strydom gesê.

Jappie gee baie krediet aan Steenkamp vir sy hulp en leiding en ongeveer die helfte van die vliegprestasies word behaal met duiwe wat deur Steenkamp geteel is.

Volgens Strydom ag Jappie homself nie juis as ’n duiwekenner nie.

“Niezaam is ’n man vir duiwe nommers en statistiek, want hy glo dit is net so belangrik soos waarneming.”

Sedert 2017 dien Jappie al die sport as Unie-voorsitter. Strydom het vertel dat Jappie daarin glo om nie net ’n verbruiker in die sport te wees nie, maar om ook as ’n werker op ’n beskeie wyse ’n positiewe bydrae tot die uitbou van die duiwesport te probeer lewer.

“Dit is ’n saak van onmoontlikheid om ’n klomp kompeterende duiweboere almal gelukkig en tevrede te hou en dit is net ’n man met ’n groot liefde vir wedvlugduiwe en die duiwesport wat die skoene as voorsitter van die EPPU kan volstaan,” het Strydom gesê.

“Die goeie nuus vir die res van die OP se duiweboere is dat Niezaam sê dat hy sy droom om drie jaar agtereenvolgend Unie-kampioen te word nou verwesentlik het en dat hy daarom voortaan die sport op ietwat kleiner skaal gaan beoefen en die lewe ’n bietjie rustiger gaan vat. Ons sal maar sien of hy dit kan regkry!” het Strydom gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article