TALENTVOLLE jong kunstenaars van Nelson Mandela-baai, Nerisha Greeff, Monique Rudd en Casey-Lynn Barnard het met talle toekennings teruggekeer ná hul deelname aan Talent America in New York vanaf 23 Junie tot 2 Julie.
Dié drie van die Leanka Laubscher School of Dance was deel van die SA-span wat na New York getoer het vir die internasionale uitvoerende kunste kompetisie.
Greeff het in modelwerk, dans en fotografie-portefeulje deelgeneem en is as Miss Talent America 2019 en Model van die Jaar gekroon.
Sy is ook die “Division Award Winner” en “Pinnacle Award Winner”.
Barnard se deelname aan sang, drama en dans het haar ’n spesiale toekenning as “Triple Threat” wenner verwerf.
Rudd het haar talent in drama en dans gewys, en ’n spesiale toekenning vir eerste plek in hip hop solo- dans gewen.
Leanka Laubscher, die eienaar en dansjuffrou van Leanka Laubscher School of Dance, het saamgereis na New York en is verkies as “Team Leader” vir Talent Africa 2019.





