22 jaar tronkstraf vir rekenmeester wat R50 m. van broers steel

Jonathan Blow, ’n voormalige rekenmeester, verlaat die hof in Gqeberha ná ’n vorige hofverskyning. Foto: Lulama Zenzile

Credit: SYSTEM

TWEE Oos-Kaapse broers kan nou die stukke van hul lewe begin optel nadat ’n man wat hulle as familie beskou het, maar miljoene by hulle gesteel het, gevonnis is.

Peter en Paul Barnes sê dit sal tyd neem om Jonathan Blow, wat hulle as hul broer beskou het, te vergewe, nadat byna R50 miljoen van hulle gesteel en hul lewens verwoes is.

Blow is Donderdag in Gqeberha se handelsmisdaadhof tot effektief 22 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy van die Sunridge- en die Despatch SuperSpar-tak, wat die Barnes-broers besit het, gesteel het. Hy was die eienaar van PE Accounting Services in Walmer wat rekeningkundige dienste aan die takke gelewer het.

Peter en Paul het gesê die vonnis wat Blow opgelê is, is regverdig, maar dat dit nie die geld sal terugbring wat hulle verloor het nie.

“Ons hoop dit sal ’n afskrikmiddel vir ander rekenmeesters wees. Ons het hom vertrou en hom soos familie behandel,” het Peter gesê.

Landdros Vusiwe Mnyani het in sy vonnisoplegging gesê Blow het uit gierigheid opgetree. “Jy het jou posisie misbruik. Jy het jou kliënte, wat jou as hul familie beskou het, mislei. As gevolg van jou berekende optrede, gedryf deur gierigheid, is jou kliënte se lewens verwoes en hul werknemers het hul werk verloor,” het Mnyani gesê.

Gedurende vonnisverrigtinge het Blow, geklee in ’n wit hemp, ’n swart broek en velskoene, na die vloer gestaar en met papiere in ’n groen plastieklêer gevroetel. Van sy familie was in die hof. Tussen Julie 2020 en September 2022 het Blow R40,59 miljoen van die Sunridge SuperSpar, wat Peter besit het, gesteel. Peter het sedertdien dié tak verkoop om die geld wat hy verloor het, terug te kry. Hy het ook verskeie keer selfdood oorweeg, het hy vroeër in die hof getuig.

Blow het in September verlede jaar erken dat hy tussen September 2020 en Maart 2022 R11,478 miljoen van die Despatch SuperSpar, wat Paul besit, gesteel het. Paul het voorheen getuig dat Blow van hom gesteel het terwyl hy op sy sterfbed was. In 2020 was hy vir drie maande in die hospitaal met COVID-19.

Blow het vroeër gesê hy het die Barnes-broers besteel weens ’n dobbelprobleem.

Iain Reid, ’n sielkundige, het getuig dat Blow se verslawing tydens die COVID-19-pandemie vererger het toe hy hom tot aanlyn dobbel gewend het. Volgens Blow het sy pa hom op negejarige ouderdom aan dobbelary blootgestel.

Paul het gesê as Blow na hulle gekom het vir hulp, sou hy hom gehelp het. Maar vir hom “is die wond nog te rou” om Blow nou te vergewe.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters het Blow in September ingelig dat hy nie meer as ’n geoktrooieerde rekenmeester kan praktiseer nie.

“Jy kan net jouself en jou geldgierigheid hiervoor blameer,” het Mnyani gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article