Hofsake | In Court
Hofsake | In Court

PATERNOSTER – Met die volgende hofverskyning van die Pato 10 in die Vredenburg-distrikshof volgende week in die grootste bedrogsaak wat die Weskus nog beleef het, word Paternoster se inwoners in nog ‘n hofgeding betrek.

ʼn Groep inwoners het op Donderdag 5 Februarie die respondente in  ʼn hofsaak waarin besluit moet word of  tydelike beskermingsbevele teen hulle permanent gemaak moet word, al dan nie, by die Vredenburg-landdroshof gaan ondersteun.

Twee inwoners van Paternoster het ná gebeure einde verlede jaar hulle genoop gevoel om beskermingsbevele teen ander inwoners te verkry.

André Kleynhans (64), ʼn bouer van die dorp, voer aan ʼn groep inwoners het hom en sy naaste familie in November verlede jaar en sedertdien geteister. Hy ʼn saak gemaak teen Paternoster-inwoners Ariska Clarke, Veronica Mdladla, Indy van Hooi, Craig Jordaan en Dwayne Brutus.

Cornelia “Pikkie” Daniel het óók ‘n tydelike beskermingsbevel verkry in ‘n soortgelyke saak teen ander respondente.

Die sake het weer vlugtig voor die Vredenburg-landdroshof verskyn om te bepaal of die tydelike beskermingsbevele wel permanent toegestaan gaan word.

Landdros Theresa Postma het verlede jaar gelas dat die respondente ingevolge die tydelike beskermingsbevele nie die klaers en hul naastes mag aanrand, dreig, vloek, beledig of belaster nie – nie in persoon nie, en ook nie op enige sosiale media of per WhatsApp nie. Hulle mag ook nie nader as 50 m aan die klaers kom nie.

Hoewel die gemeenskap verlede jaar in November diep ontsteld was oor ʼn rassistiese stemboodskap wat uit ʼn WhatsApp-groepie gelek het, mag die media ingevolge Suid-Afrikaanse mediawetgewing nie met ʼn hofsaak inmeng deur dit vooruit te loop nie.

In dié betrokke stemboodskap word “afgepraat” na die gemeenskap en word uitgespel dat daar vir “sekere” mense duisende rande per maand gegee word en “feeste” gereël word “sodat ons enigiets onder hul neuse kan doen”. “Ons gee maar net geld en hulle is happy.”

Die gemeenskap het op 18 November verlede jaar die strate ingevaar om hul ongelukkigheid weer te gee. Foto: Danie Hefers

Kleynhans ontken in sy verklaring, wat as bewysstuk by die hof ingelewer is, dat hy soos die persoon in die stemboodskap beweer, ʼn voorstaander daarvan is dat Paternoster se strand blouvlagstatus kry. Dié projek is destyds deur die uitgetrede burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, André Truter, gedryf en sou beteken dat bestaansvissers die plek waar hulle tradisioneel hul skuite in die water stoot, sou verloor.

Die gemeenskap het gister voor die hof aan Weslander gesê hul vermoede is dat die stemboodskap deur ʼn welaf inwoner gemaak is. Hulle sal graag wil hê dat al twee kante van die saak spoedig uitkom.

In ʼn lopende hofsaak mag die media egter slegs berig oor wat in die hof aangevoer word en oor dokumente wat amptelik as bewysstukke ingedien is, soos Kleynhans se beëdigde verklaring. Die respondente se kant van die saak kan eers weergegee word wanneer hulle self in die hof getuig of hul weergawe en bewysstukke voor die hof geplaas word.

Volgens Kleynhans het ʼn geskokte Pikkie Daniel glo op 18 November na hom gekom oor beweringe dat sy die stemboodskap gemaak het. Die beweringe is intussen weerlê.

Kleynhans verklaar een van die beskuldigdes, Ariska Clarke, het die stemboodskap op die Paternoster Crime Group op WhatsApp geplaas. Sy verklaring lui verder dat hy  ʼn groot groep onstoke inwoners ‘n dag later, omstreeks 20:00, naby sy huis voorgekeer het. Volgens hom het hulle geskree en geskel, gelei deur Clarke, Mdladla, Van Hooi en Jordaan. Hy is, volgens sy verklaring, aangesê om uit die dorp pad te gee.

Kleynhans verklaar ook hy het op daardie tydstip gedink geweld sou enige oomblik uitbreek en het daarom vir Daniel by haar huis gaan haal sodat sy met die mense kon praat.

Kleynhans beweer Craig Jordaan het hom gedreig en gesê as hy nie dadelik die dorp verlaat nie, gaan sy huis afgebrand word. Hy het ook glo gesê: “die enigste goeie Boer is ʼn dooie Boer.”

Kleynhans sê hy wou nie die polisie betrek nie, uit vrees dat dit die situasie buite beheer sou vererger. Hy het aan die mense teenwoordig onderneem om die stemboodskap forensies te laat analiseer.

Volgens Kleynhans het die mense hierop uit mekaar gegaan, maar daar is steeds geskree dat Kleynhans en Daniel uit die dorp moet padgee.

Daardie aand is ook ʼn lewendige uitsending gemaak van ʼn vergadering oor die stemboodskap in die Tolman-gemeenskapsaal.

Onrus in die dorp het begin ná verskeie inhegtenisnemings in  ʼn roetine-klopjag op 17 November naby die Laaiplek-hawe waarin onder meer ook twee mans van Paternoster in hegtenis geneem en op verskeie visserskuite beslag gelê is. Volgens die Weskus-polisie en die Seegrens-eenheid was die optrede standaardprosedure, gerig op onwettige visvang- en kreefsmokkelbedrywighede.

Die polisie moes op 18 November intree by Kenny Cilliers se gastehuis naby die vismark om lewens en eiendom te beskerm ná ’n opmars van omstanders. Cilliers en sy vrou is onder polisiebegeleiding uit die woongebied gelei.

Die stemboodskap het lont op die vuur gegooi.

LEES OOK: Moles ná polisieoptrede op Paternoster

Kleynhans verklaar hy is op 5 Desember gewaarsku om “versigtig” te wees.

Luidens ‘n verslag, wat in Weslander se besit is, is die stemboodskap ʼn oorspronklike boodskap en níé KI-gegenereerd nie. Daar is egrter nog nie uitsluitsel oor wie die skepper van die stemboodskap is nie.

Kleynhans vrees vir sy en sy gesin se lewe, veral nadat drie vrot viskoppe vir sy honde gegee is, vermoedelik om hulle te vergiftig.

Die saak kom weer op Donderdag 26 Februarie voor. Daar is in die hof gevra vir ‘n moontlike bemiddelingsproses.

Die bedrogsaak teen die Pato 10: Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Albert Marais (68), Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky, gaan op Vrydag 13 Februarie voort.

Hulle en hul maatskappy staar aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen in die gesig. Van dié maatskappy sluit in die Paternoster Groepbelange, AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe, Oulap, Visprodusente en Uitvoerders, die Trans-Republikeinse Visserybeleggings.

LEES OOK: R300 miljoen Paternoster-bedrogsaak: Nóg aanklagte bygevoeg

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article