WAARSKUWING: Hierdie artikel en gepaardgaande foto’s kan sensitiewe lesers ontstel.
PAARL – ’n 69-jarige man van die Paarl is Dinsdagoggend (8 September) in Paarl-hospitaal dood nadat hy Saterdag (5 September) by Rusthof-ouetehuis ernstige brandwonde opgedoen het. Die oorledene is as Amos Johannes van Dyk geïdentifiseer. Hy is al sedert 2022 ‘n inwoner van die ouetehuis.
Van Dyk se vrou, met wie hy steeds wettig getroud was al was hulle al sowat 19 jaar lank vervreemd, was volgens iemand wat hom goed geken het sy enigste naasbestaande. Volgens die bron wat op voorwaarde van anonimiteit met Paarl Post gepraat het, is sy vrou eers Maandag (7 September), twee dae ná die voorval, daarvan in kennis gestel.
“Hy is van sy kop tot middellyf verkool,” het die bron aan Paarl Post gesê.
Volgens die bron het personeel van Rusthof aan Van Dyk se vrou gesê hy het brandwonde opgedoen toe die wind ’n sigaret wat hy buite gerook het, teen sy hemp vasgewaai het.
“Hulle sê dit het sy hemp aan die brand laat slaan en toe brand hy,” het die bron gesê.
Hoewel die egpaar amper twee dekades gelede besluit het om die verhouding te beëindig, het hulle volgens die bron steeds wettig getroud gebly en later weer ’n hegte vriendskap ontwikkel.
Die skok van haar lewe
Volgens die bron het Van Dyk se vrou Maandagaand na Paarl-hospitaal gegaan nadat sy van die voorval ingelig is. Sy het kos en iets om te drink saamgeneem. “Die plan was om te vra of hy oukei is en uit te vind wat gebeur het,” het die bron gesê.
Volgens die bron was die vrou egter nie voorbereid op die erns van haar man se toestand nie.
“Hy was van sy kop af met verbande bedek. Dit het gelyk of hy nie oë het nie, dit was toegebrand.”
Die bron sê Van Dyk het ernstige brandwonde aan sy bolyf en nek gehad, terwyl sy heupe en bene ook gebrand was.
Volgens die bron het ’n dokter aan sy vrou verduidelik dat die interne skade weens die vlamme en rookinaseming veel erger was as die sigbare brandwonde.
“Die uiterlike wonde kan genees, maar wat binne-in sy liggaam aangaan, is veel erger. Al die vlamme en rook wat hy ingeasem het, het sy organe en longe erg aangetas.” Die dokter het aldus die bron verder gesê sy longe het platgeval en dat sy kans op herstel swak was.

Wynand Els, die hoof van brand- en reddingsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, het Donderdag (10 September) by navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit se brand- en reddingsdienste het geen oproepe oor die voorval by die Rusthof-ouetehuis ontvang nie.
Die soeke na antwoorde
Volgens die bron het Van Dyk se vrou gesukkel om te verstaan hoe ’n sigaret tot sulke ernstige brandwonde kon lei.
“Ek is self ’n roker en sigarette gaan dood. Toe hy voel hy brand, sou hy mos skreeu vir hulp of van die seer,” het die bron gesê.
Volgens die bron het sy vrou ook vrae gehad oor waar die voorval plaasgevind het, waar personeel was en waarom sy eers twee dae later daarvan in kennis gestel is.
Die bron sê daar is twee verskillende weergawes oor waar die man gerook het.
“Eers het hulle gesê hy het buite gerook, toe is dit weer hy het in sy kamer gerook.”
Volgens die bron het Van Dyk se vrou gevra watter weergawe korrek is, waarop daar glo geantwoord is: “Albei.”
Die bron sê Van Dyk het geheueverlies gehad en dat dit vrae oor die vlak van toesig oor hom laat ontstaan.
Een van die personeellede het aldus die bron ook beweer hy het telkemale gedreig om die ouetehuis af te brand. Dit het volgens die bron verdere vrae laat ontstaan oor waarom hy steeds toegelaat is om te rook indien die personeel daarvan bewus was.
Volgens die bron is Van Dyk se vrou tydens sy verblyf ook by tye verhinder om hom te besoek.
Die bron beweer verder dat van die goed wat sy vrou vir hom gebring het, soms gesteel is. Volgens die bron het Van Dyk baie van sy besittings vergeet.
Die ouetehuis het ná sy dood aanvanklik ook geweier om sy besittings aan sy vrou te oorhandig, aldus die bron.
’n Man met ’n sagte geaardheid
Die bron beskryf Van Dyk as ’n stil, liefdevolle en vrygewige mens. “Hy was die stilste, liefdevolste, vrygewendste mens. Sy vrou het nooit ’n tekortkoming gehad nie.”
Volgens die bron was hy getrou en netjies en het hy nooit ’n vloekwoord teenoor sy vrou gebruik nie. “Hy was ‘n sagte mens, met ‘n goeie hart wat oplettend was en sy vrou op sy hande gedra het, en haar altyd gekomplimenteer het.
“Hy het homself laaste gesit vir ander mense. Hy het homself tekort gedoen vir ander.”
Geregtigheid moet geskied
Die bron beskryf Van Dyk se dood as onnatuurlik.
Volgens die bron sou ‘n dood aan natuurlik oorsake minder seermaak en sukkel hulle om die manier waarop hy dood is te aanvaar.
“Ek voel daar was nie toesig nie. Ek voel dit was nie regverdig om so te sterf nie.” Die bron sê hul grootste wens is dat daar duidelikheid oor die voorval kom en dat iets soortgelyks nie met nog ’n inwoner gebeur nie. “Ek wil nie hê nog mense moet daar seerkry nie.”
Die polisie het Woensdag (9 September) by navraag aan Paarl Post gesê ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Rusthof se reaksie
Alvira Kleinhans, wat aan die stuur van Rusthof-ouetehuis is, het nie op die spesifieke vrae wat Paarl Post aan die ouetehuis gestuur het, gereageer nie. Die koerant het onder meer vrae gehad oor die omstandighede van die voorval, of Van Dyk onder toesig was, die bewerings dat hy telkemale gedreig het om die ouetehuis af te brand en ook oor die tyd tussen die voorval en wanneer sy vrou gekontak is.
Sy het Donderdag (10 September) wel aan Paarl Post gesê Rusthof waardeer die vrae, maar dat almal wat by die “ongelukkige en hartseer voorval” betrokke is of daardeur geraak is, ernstig getraumatiseer is.
Volgens Kleinhans is verskeie ondersoeke aan die gang en is dit belangrik dat daar eers deeglik besin word oor wat gebeur het.
Sy het gesê dit is belangrik dat geen persoonlike inligting oor die voorval versprei word voordat amptelike bevindings bekend is nie.
Kleinhans het gesê Rusthof sal intussen berading en ondersteuning aan personeel en inwoners bied.
“Ons vra dat lesers saam met ons vir hulle sal bid,” het sy gesê.






You must be logged in to post a comment.