Joan Hambidge
Prof. Joan Hambidge word vanjaar by die Tuin van Digters-fees, op haar 70ste verjaarsdag, gehuldig.

Wees weer mens in Tuin van Digters

Joan Hambidge
Prof. Joan Hambidge word vanjaar by die Tuin van Digters-fees, op haar 70ste verjaarsdag, gehuldig.

WELLINGTON – Die Tuin van Digters keer op Vrydag 11 en Saterdag 12 September terug na die Breytenbach Sentrum in Wellington vir sy 15de fees. Met die tema “menswaardig” bring die fees vanjaar gevestigde en nuwe digters, skrywers, musikante en kunstenaars byeen vir ‘n program van gesprekke, voorlesings, musiek, uitstallings en optredes.

Die tema, menswaardig, wil Tuin van Digters as ‘n mens-sentriese fees posisioneer in ‘n tyd waarin baie van die samelewing se intellektuele en letterlike energie in masjiene gestort word. Volgens die feeskurator, Bibi Slippers, is “mens- waardig” ‘n woord waarin verskillende betekenisse en moontlikhede saamleef, waaronder menslikheid, plek, waarheid, waardigheid en digkuns.

LAAI AF: Tuin van Digters-program

“Poësie, wat van asem, ervaring en breinvuur gemaak word, is gelyktydig ‘n manier van mens-wees en ‘n manier om die eienaardighede van menswees op te teken,” sê Slippers.

“By die Tuin van Digters glo ons dat digkuns, en die mense wat gedigte met die hand en die hart maak, ons tyd en aandag waardig is.” Die 2026-program bied gesprekke oor nuwe digbundels en skrywers, huldeblyke aan figure in die Afrikaanse letterkunde, ruimte vir jong en opkomende digters, en geleenthede waar poësie met musiek en ander kunsvorme verbind word.

‘n Vrydagaand met Joan Hambidge, Lina Spies en nuwe kuns

Die fees begin Vrydagmiddag met “Plek van deelname en deelwórd”, waarin Curtus van Kerwel en musiekstudente van die Breytenbach Sentrum die vrug van toegewyde musiekopleiding ten toon stel. Dit word gevolg deur “Onthou is die dag wat breek”, ‘n gesprek oor ‘n nuwe bundel wat hulde bring aan die Afrikaanse digter Lina Spies. Bibi Slippers gesels met Alwyn Roux en Neil Cochrane, die samestellers van die bundel, oor herinnering en voortsetting, en oor die menslikheid van Spies soos dit in haar werk verwoord word. Digters wat in die bundel opgeneem is, lees ook hul bydraes voor. Vrydagaand word twee uitstallings in die Breytenbach Sentrum geopen.

“Die vlam van vertel”, saamgestel deur Anne-Ghrett Erasmus, ondersoek die mens se narratiewe instink en die stories waarmee ons betekenis aan ons wêreld gee. Johan Myburg tree as openingspreker op. “Woordsketsers”, ‘n foto-uitstalling deur Willem Mulder, bestaan uit portretstudies van Suid-Afrikaanse digters en skrywers.

Een van die fees se hoogtepunte is “Amberkamer: Joan Hambidge”, wat op Vrydag 11 September plaasvind, op Hambidge se 70ste verjaardag. Hambidge se oeuvre beslaan meer as 40 publikasies. Karen de Wet, samesteller van die versamelbundel Amberkamer, praat oor Hambidge se oeuvre. Laurinda Hofmeyr sing toonsettings van haar werk en Nina Swart lees van haar geliefde gedigte voor. Die musiekprogram word voortgesit met “Gewone woorde”, waarin Laurinda Hofmeyr, Kevin Gibson en Schalk Joubert nuwe lewe gee aan die woorde van digters soos NP van Wyk Louw en Antjie Krog.

Die aand sluit af met “Buurvrou en die gawe gedigte van langsaan”, waarin die groep Buurvrou (Beer Adriaanse, Carla Smith, Nienke Geldenhuys en Luka Geldenhuys) bekende, gewilde en vergete gedigte met hul eie folk-liedjies verweef.

Saterdag: van digters se stemme tot nuwe stemme

Saterdagoggend begin in die Digterstuin met “Stembande”, waarin stemopnames van digters wat ver woon, elders is of reeds oorlede is, deur die tuin weerklink.

Jong digters kry ‘n prominente plek in “Meer digdink is nodig”, aangebied deur die Drakenstein-munisipaliteit. Jong skrywers van hoërskole in die Drakenstein en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus lees hul eie gedigte onder leiding van Lindsey Bruindjies voor. Die oggendprogram sluit ook gesprekke in met Anri Botha en Daniel Hugo oor hul jongste bundels, asook “Die stoel langsaan”, ‘n verweefde poëtiese ervaring deur die Mengelmoesdigters, ‘n kollektief wat onder leiding van Diana Ferrus by die Breytenbach Sentrum ontstaan het. In “Ek weet dit want” gesels Carina van der Walt en Jennifer Pape met Tom Dreyer oor kennis, ervaring en die manier waarop dit in poësie verwoord word.

Pieter Hugo en Hannes Visser ontmoet in “Die vryval tussen asem”, ‘n gesprek oor hul jongste bundels en die ruimte tussen die eerste en laaste asem. Johan Myburg gesels met Karen de Wet oor sy bundel Steierwerk – 71 sonnette wat die temas van verval, groei en verganklikheid ondersoek.

By “Open Mic: Toekomswoorde” kry opkomende en gevestigde digters die geleentheid om hul eie werk voor te lees. Deelnemers kan tot 4 September by Deon Meiring aansoek doen deur ‘n e-pos aan deonmeiringvideos@gmail.com te stuur.

Tuin van digters
‘n Deelnemer aan verlede jaar se “Open Mic”-sessie by die 2025 Tuin van Digters-fees.

Die mens in verhouding tot ander

Saterdagmiddag se program beweeg verder tussen musiek, poësie en gesprek. “Mense-mense”, met Magé Troskie en Miché van Wyk, verweef liedjies en stories oor mense met bekende mensegedigte. In “Ek’t ons’t”, ‘n paneelbespreking aangebied deur PEN Afrikaans, gesels Veronique Jephtas, Pieter Odendaal, Bibi Slippers en Shane van der Hoven met Bibi Burger oor die self as bron van ervaring, herinnering en verbeelding. Die internasionale komponent van die fees word verteenwoordig deur die Nederlandse digter Mustafa Stitou, wat saam met Tom Dreyer en Danie Marais in “Hoogtes en hier-wees” met Louise Viljoen gesels oor hul werk en die verhouding tussen die verhewe wêreld van die verbeelding en die alledaagse werklikheid.

Laatmiddag ondersoek Fourie Botha en Shane van der Hoven in “Die kuns van kruip” die raakpunte tussen hul nuwe bundels, Kolam en Kruiper-Crawler.

Ingrid Jonker-prys en 130 jaar van ‘Ons Klyntji’

Die jaarlikse Ingrid Jonker-prys is een van die hoogtepunte van die Tuin van Digters. Die prys word beurtelings aan ‘n Afrikaanse of Engelse debuutdigbundel toegeken. Vanjaar word die skrywer van ‘n Engelse debuutdigbundel bekroon. Die fees vier ook Ons Klyntji se 130ste verjaardag. Toast Coetzer en Erns Grundling bied ‘n program aan rondom die alternatiewe zine se geskiedenis en die bekendstelling van die nuwe 2026-uitgawe. Saterdagaand word afgesluit met “Oopmond + oopkop”, ‘n woord-en-musiekgeleentheid waarin digters, musikante en ‘n beeldende kunstenaar binne ‘n kort tyd nuwe werk skep.

Die voorbladontwerp van Ons Klyntji se 130ste jaargang.

Twee spanne digters ontvang ‘n tema wat deur die gehoor bepaal word en het tien minute om ‘n nuwe gedig te skryf. Die gedigte word daarna deur musikante getoonset, terwyl ‘n beeldende kunstenaar terselfdertyd ‘n nuwe werk skep. Die deelnemers aan “Oopmond” is Danie Marais, Toast Coetzer, Anna-Bet Stemmet, Andries de Beer en Churchill Naude, met Hanru Niemand en Deon Meiring as musikante en Henry Cloete as skeidsregter.

Toast Coetzer
Toast Coetzer doen ‘n voorlesing uit Ons Klyntji se 129ste jaargang by verlede jaar se Tuin van Digters. Coetzer, ‘n joernalis, is een van die gereelde redakteurs van dié monochroom broeksak-grote publikasie.

Ná afloop daarvan word die aand met ‘n laatnagpartytjie voortgesit.

Die 2026-program is ontwerp deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar, illustreerder en grafiese ontwerper Daniël du Plessis, wat ook bekend is vir sy strokiesprentkuns en illustrasiewerk.

Kaartjies

Tuin van Digters vind by die Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington, plaas. Die program word aangebied in die ATKV Akkoordtent, die Woordtent, die Digterstuin, die Breytenbach Galery en ander ruimtes op die terrein. ‘n Dagkaartjie sluit alle programitems op die betrokke dag in. ‘n Kaartjie vir Vrydag 11 September gee dus toegang tot die volledige Vrydagprogram, terwyl ‘n kaartjie vir Saterdag 12 September toegang tot die volledige Saterdagprogram gee. ‘n Naweekpas sluit die volledige program op albei dae in. Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag, R250 per volwassene vir Saterdag en R300 per volwassene vir ‘n naweekpas. Studente met ‘n geldige studentekaart be- taal R100 vir ‘n naweekpas. Kinders onder 16 betaal R50 per dag.

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang. Kaartjies is beskikbaar via Quicket.

Besoek die Breytenbach Sentrum se webwerf en sosiale media vir meer inligting.

  • Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach. · Stuur e-pos aan info@breytenbachsentrum.co.za met algemene navrae, ook oor verblyfopsies. Besoek www.breytenbachsentrum.co.za vir die volledige program.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article