Skokkende bewerings van lykskending word tans by die Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl ondersoek nadat munisipale werkers op ’n grusame toneel afgekom he

Twee lyke glo in een graf

Skokkende bewerings van lykskending word tans by die Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl ondersoek nadat munisipale werkers op ’n grusame toneel afgekom he

Verdoemende bewerings wat verband hou met ‘n Paarlse begrafnisondernemer word tans deur die polisie ondersoek.

Daar word beweer dat Sienah Saaiman Funerals ‘n lyk in ‘n oop graf geplaas en voortgegaan het om nóg ‘n lyk in ‘n kis bo op die ander oorledene in dieselfde graf te laat neersak.

Die beweerde ontdekking is glo op Donderdag (17 September) gemaak toe munisipale werkers by die Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl onraad begin vermoed het toe ‘n voertuig met ‘n sleepwa ‘n bebloede kis na die begraafplaas gebring het. Die bestuurder van die voertuig het hom kort daarna vinnig van die toneel gehaas.

Paarl Post verneem die twee grafte is aanvanklik gegrawe vir twee mense wat verwant is aan mekaar. Elkeen sou in hul eie graf begrawe word, maar is na bewering in een graf begrawe – een binne-in ‘n kis en een net so sonder ‘n kis. Toe onraad vermoed word, is die Paarl-polisie verwittig wat verdere ondersoek ingestel het.

op sleepwa

Die graf is weer oopgegrawe toe die grusame ontdekking gemaak is, verduidelik ‘n bron.

Volgens die bron was daar ‘n derde liggaam in ‘n afsonderlike kis op die toneel wat nog nie begrawe was nie. Die persoon voer ook aan dat die liggaam in die bebloede kis op die sleepwa ‘n vierde lyk is wat na die oop grafte gebring is wat na bewering ook in een van die twee grafte begrawe sou word.

Paarl Post het uitgereik na die ondernemer om hul kant te stel oor die ernstige bewerings. Die publikasie is egter verwys na hul prokureur, Ellerize Morrie, wat bevestig het dat sy nie in dié stadium gemagtig is om met die media te praat nie.

Editha Barnard, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van veiligheid en gemeenskapsdienste, het by navraag die volgende gesê: “Potensiële ongerymdhede by die Nieuwedrift-begraafplaas is [Donderdag] onder Drakenstein-munisipaliteit se aandag gebring. Ons het ondersoek ingestel en die aangeleentheid onmiddellik na die polisie verwys wat die saak volledig ondersoek en ‘n verklaring aan die media sal uitreik.”

Konst. Ndakhe Gwala, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het die polisie se ondersoek bevestig.

“Hierdie kantoor bevestig dat die Paarl-polisie ‘n klagte ontvang het van beweerde wangedrag deur ‘n begrafnis- ondernemer by ‘n begraafplaas in die Paarl. Dit word ondersoek.”

Onbevestigde gerugte dui daarop dat die grafte gegrawe is vir armlastige begrafnisse, glo in opdrag van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, en uitgevoer sou word deur die ondernemer. Die departement het vandeesweek by monde van Leensie Lötter, woordvoerder vir Paarl-hospitaal, terugvoering verskaf in verband met die bewerings.

saamgewerk

“Paarl-hospitaal se bestuur is bewus van die voorval en verstaan die kommer wat die omstandighede rondom die liggame wat by die Nieuwedrift-begraafplaas gevind is, kan veroorsaak. Die hospitaal is Vrydagoggend, 18 September, deur beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens besoek.

“Die hospitaal het ten volle met die beamptes saamgewerk en kon, aan die hand van die nodige dokumentasie en registers, bevestig dat die liggame wat gevind is nie liggame was wat deur die hospitaal vir armlastige begrafnisse bestem is nie.”

Lötter verduidelik slegs een van die liggame is in ‘n sak met die departement se besonderhede daarop gevind.

“Volgens die lykshuis se rekords is hierdie liggaam reeds deur ‘n geregistreerde begrafnisondernemer in ontvangs geneem.

“Die hospitaal wil ook duidelik stel dat sy bestaande kontrak vir armlastige begrafnisse voorsiening maak vir verassing en nie vir teraardebestelling nie.”

Lotter sê verder: “Die hospitaal besef die erns en sensitiewe aard van die aangeleentheid en sal voortgaan om, waar nodig, met die betrokke owerhede saam te werk.

“Enige verdere navrae oor die hante-

ring of begrafnis van die betrokke liggame sal aan die betrokke begrafnisdiens gerig moet word.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article