Boland Park in die Paarl is gekies as gas- heer vir die Wêreldbeker-kieket in 2027.

Paarlse sportvelde sal Wêreldbeker huisves


Boland Park in die Paarl is gekies as een van die gasheerstadions vir die 2027 Internasionale Krieketraad (ICC) se Wêreldbeker-kieket.

Sowat R30 miljoen word aan opgraderings bestee om die stadion gereed te kry vir die internasionale toernooi.

Die belegging deur Drakenstein-munisipaliteit en Boland Krieket sluit nuwe veldligte en ‘n spelersbestuursgebied in wat as span-kleedkamers vir deelnemende lande gebruik sal word.

James Fortuin, uitvoerende hoof van Boland Krieket, sê die werk word gedoen om Boland Park aan die vereistes van ‘n Wêreldbekergasheerstadion te laat voldoen.

Boland Park het reeds internasionale krieket aangebied. Suid-Afrika en Pakistan het in Desember 2024 die eerste eendagwedstryd tussen die twee lande in die Paarl gespeel. Suid-Afrika en Ierland se vrouespanne het in Desember 2025 ‘n T20-internasionale wedstryd ook op die veld gespeel.

Die Paarl Royals gebruik die stadion ook as hul tuisveld in die SA20-kompetisie.

Parys-krieketveld in Markstraat, die tuiste van die Paarl-krieketklub, is as ‘n sekondêre terrein vir die toernooi aangewys. Internasionale spanne kan dit vir opwarmings- en oefenwedstryde gebruik.

Drakenstein-munisipaliteit verwag dat die toernooi ook meer besoekers na die gebied kan lok en plaaslike ondernemings in die gasvryheids- en toerismesektor kan bevoordeel.

Raadslid Laurichia van Niekerk, burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning, sê die munisipaliteit werk saam met toerismevennote om besoekers van die streek se aanbod bewus te maak.

“Die gasvryheidsektor, van restaurante en koffiewinkels tot gastehuise en toerismeondernemings, kan voorberei om aansienlik meer besoekers te verwelkom,” sê sy.

Volgens die uitvoerende burgemeester, Stephen Korabie, is die Wêreldbeker-aanbieding ‘n belangrike geleentheid vir Drakenstein.

“Om wedstryde as deel van die 2027 ICC Wêreldbeker-krieket aan te bied, plaas ons munisipaliteit op een van die grootste sportverhoë ter wêreld,” sê Korabie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article