Inwoners van Saron moes onlangs vir dae sonder water klaarkom nadat swaar reën en modderstortings die dorp se watervoorsiening ernstig ontwrig het. Hoewel die toevoer intussen herstel is, het inwoners gekla oor bruin, sanderige water wat uit krane vloei.
Volgens Drakenstein-munisipaliteit was die probleme die gevolg van swaar reën tussen 10 en 12 Mei wat groot hoeveelhede modderwater uit die Leeurivier na die dorp se waterinfrastruktuur gevoer het.
Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die munisipaliteit, het gesê die modderwater het die opvangspunt, die agt kilometer lange toevoerkanaal en pyplyn, sandfilters en reservoir ongeskik vir gebruik gemaak.
“As voorsorgmaatreël is die watertoevoer na Saron op 12 Mei tydelik afgeskakel om skade aan die reservoir en verspreidingsnetwerk te voorkom,” het hy gesê.
Slegs Saron is deur die onderbreking geraak, terwyl Gouda steeds water gehad het.
Munisipale spanne het daarna dae lank aanhoudend gewerk om die reservoir en toevoer- stelsel skoon te maak en herstelwerk uit te voer. ‘n Tydelike afleidingskanaal is ook gebou om skoner water na die opvangspunt te lei.
Volgens Pienaar is die reservoir daarna geleidelik hervul om die waterstelsel te beskerm. Watervoorsiening aan inwoners is van 16 Mei stelselmatig herstel, met volle stabilisering wat teen 17 Mei bereik is.
Inwoners het egter ná die herstel van die toevoer gekla oor troebel, bruin water met sand daarin. Pienaar sê die verkleuring en troebelheid het voorgekom terwyl die stelsel weer gestabiliseer het, maar het inwoners verseker dat die water veilig vir verbruik bly.
Die munisipaliteit het gedurende die onderbreking watertenkwaens beskikbaar gestel om inwoners by te staan, en dié ondersteuning sal voortduur totdat die stelsel volledig genormaliseer het.





