Inwoners wat naby die Portland Readymix-sementaanleg in De Zoete Inval in die Paarl woon, het die Drakenstein-munisipaliteit (DM) amptelik versoek om ondersoek in te stel na wat hulle beskryf as volgehoue sementstof, oormatige geraas en moontlike gesondheidsimpakte wat met die aanleg se bedrywighede verband hou.
Ian Visser is een van die besorgde inwoners van die Oude Chardonnay-woonkompleks, wat in die onmiddellike omgewing van Portland Readymix geleë is, en wat hul kommer uitgespreek het.
Volgens Visser bly hy reeds ses jaar in die kompleks en vertel dat klagtes oor Portland Readymix gereeld opduik waarna hy en 47 ander inwoners besluit het om ‘n skrywe aan die munisipaliteit te rig.
Die klagtes word deur ‘n inwonersopname, fotografiese bewyse en ‘n mediese verslag ondersteun en is op 1 Junie by die DM ingedien.
Volgens die dokument meld inwoners vir ‘n geruime tyd stof op hul huise, voertuie en tuine aan, terwyl hulle ook gereeld blootgestel word aan geraas van masjine- rie, vragmotors en ander aktiwiteite by die aanleg.
Die dokument voer aan dat hierdie toestande inwoners se lewensgehalte en hul vermoë om hul eiendomme ten volle te geniet aansienlik benadeel.
Om hul bekommernisse te staaf, het inwoners van 27 tot 29 Mei ‘n opname gedoen waaraan 48 mense wat in die kompleks woon, deelgeneem het.
Die opname het bevind dat 100% van die respondente aangedui het dat hul stof op hul eiendomme kry, terwyl 77% gesê het dat hulle gereeld en op ‘n daaglikse basis die ophoping van stof op hul erwe ervaar.
Blootstelling oor langtermyn
Geraasbesoedeling was nog ‘n groot bron van kommer.
Volgens die opname het 98% van die respondente aangedui dat hulle deur geraas geraak word, terwyl driekwart gesê het dat die geraas gereeld voorkom.
Inwoners het masjinerie, vragmotors en agtergrondgeraas van die aanleg as die hoofbronne van die versteuring geïdentifiseer.
Byna al die respondente het ook aange- dui dat hulle aktiwiteite buite wat hulle as normale werksure beskou, waargeneem het.
Die dokument lug verder uit dat inwoners fotografiese en video-bewyse versamel het wat stofvrystellings en bedrywighede ná werksure dokumenteer.

‘n Beduidende gedeelte van die voorlegging fokus op gesondheidskwessies wat inwoners glo verband kan hou met langtermynblootstelling aan sementstof.
Volgens die opname het 44% van die respondente asemhalings- of sinusverwante simptome aangemeld wat hulle glo met stofblootstelling verband hou.
Sommige inwoners het ook aangedui dat hul kinders herhalende asemhalingsinfek- sies, neusirritasie en sinusverwante siektes ervaar het.
Die dokument meld verder dat die stofblootstelling nie tot buite hul wonings be- perk is nie, met inwoners wat beweer dat stof hul huise binnedring en op meubels, beddegoed en klere gaan lê.
As ondersteunende dokumentasie het inwoners ook ‘n mediese verslag by die voorlegging ingesluit, wat volgens hulle kommer oor sementverwante blootstelling uitlig.
Munisipale verantwoordelikheid
Die voorlegging voer aan dat die munisipaliteit ‘n verantwoordelikheid het om toe te sien dat nywerheidsaktiwiteite nie ‘n oorlas skep of omliggende residensiële gemeenskappe nadelig beïnvloed nie.
Inwoners versoek dat die munisipaliteit ‘n amptelike nakomingsinspeksie uit- voer, sonering en grondgebruikgoedkeurings verifieer, stofonderdrukkingstelsels evalueer en ondersoek instel of die aanleg binne sy goedgekeurde bedryfsure funksioneer.
Hulle vra ook vir onafhanklike luggehaltemonitering, asook stof- en geraasimpakstudies.
Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste “bevestig ontvangs van die formele klagte en die gepaardgaande dokumentasie wat deur inwoners rakende die Portland Readymix-fasiliteit ingedien is”.
LEES OOK: De Zoete-inval beveg steeds stof
“Die DM bestudeer tans die inhoud van die voorlegging, asook die verskillende tegniese aspekte wat daarin geopper word. Die aangeleentheid word intern ondersoek, en ‘n volledige en omvattende reaksie sal mettertyd verskaf word sodra alle betrokke departemente hul ondersoeke afgehandel het,” het Johaar gese.
Paarl Post het uitgereik na Portland Readymix, maar geen kommentaar ontvang nie.




You must be logged in to post a comment.