kjnkjn
Die Bergrivier wat deur die Paarl loop styg beduidend, maar hou nog geen gevare in nie. Foto: Verskaf

Die Wes-Kaap gaan gebuk onder swaar reën en rukwinde, wat verwoestende toestande in talle dorpe en op paaie veroorsaak – onder andere ook die Drakenstein-vallei.

’n Oranje vlak-8 waarskuwing vir ontwrigtende reën is tot môre (12 Mei) van krag, met moontlike oorstromings en modderstortings, wat bergagtige gebiede van die Drakenstein- en Stellenbosch-munisipaliteite, die westelike dele van die Theewaterskloof, die Kaapstad-metro, Breedevallei en Witzenberg kan raak.

Dít is volgens ‘n kennisgewing deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS).

Paaie gesluit

Talle paaie in die Drakenstein-omgewing is gesluit.

Die Bainskloofpas tussen Wellington en Ceres is gesluit, volgens ‘n verklaring deur die Drakenstein-munisipaliteit (DM), terwyl Distillerystreet in die Paarl ook toe is weens vloedskade.

Die N1 vanaf die Hugenote-plaza en -tonnel en die Du Kloof Lodge tussen Paarl en Worcester is weens modderstortings in beide rigtings vir alle verkeer gesluit, terwyl die Du Toitskloofpas ook binnekort gesluit sal word.

Dit is volgens die Wes-Kaapse verkeersdiens. Die N1 Worcester tussen die weegbrug en die Shell-vulstasie is ook vroeër vanmiddag gesluit.

Die Franschhoekpas is ook vir verkeer gesluit.

Kragonderbrekings

Volgens ‘n verklaring is die DM tans besig om aandag aan kragonderbrekings in verskeie gebiede te gee.

Die onderbrekings raak Windmeul, insluitend Owloon, Nantes en omliggende plase asook Simondium, waaronder Langerus en omliggende plase. Die Drakenstein- Korrektiewe Sentrum word ook deur die kragonderbreking geraak.

nknlkj
‘n Boom het in Franschhoek ontwortel. Foto: Facebook

Volgens die munisipaliteit het hy op hierdie tydstip nog geen beraamde tyd vir die herstel van die kragtoevoer nie.

Sekere dele van Klapmuts sit ook sonder krag.

Skole gesluit

Die Wes-Kaapse departement van Onderwys (WKOD) het in ‘n verklaring bekendgemaak dat alle skole oor die provinsie heen op Dinsdag 12 Mei gesluit sal wees en waarskynlik op Woensdag (13 Mei) sal heropen.

uhiuh
Die N1 tussen Klapmuts en die Paarl in die rigting van die Paarl is ook versper. Foto: Facebook

Hiérdie kennisgewing volg nadat slegs sekere skole in die provinsie, waaronder die Breedevallei, Langeberg en Witzenberg-streek, vandag (Maandag 11 Mei) gesluit was.

LEES OOK: Severe weather prompts one-day school closure across battered Western Cape

Plaaslike skade

Skade is in verskeie gebiede aangemeld, waaronder in Franschhoek in Krugerstraat, waar ‘n akkerboom ontwortel is en skade aan infrastruktuur veroorsaak het, terwyl ‘n boom in Piet Retiefstraat in Wellington naby die N1-afrit in die rigting van die Paarl omgeval het.

jhikhjn
Nog ‘n boom het in Piet Retiefstraat in Wellington omgeval. Foto: Facebook

‘n Deel van die Green Valley-pad naby die Holden Manz-wynlandgoed in Franschhoek het ook inmekaargesak.

“Die munisipaliteit se rampbestuursplan bly ten volle geaktiveer en munisipale spanne, saam met sleutelvennote, word regoor die munisipale gebied ontplooi om die veiligheid van inwoners te verseker. Reaksiemaatreëls sluit in die aflewering van sandsakke om te help met oorstromings waar nodig, die skoonmaak van ontwortelde bome en puin, en die herstel van die elektrisiteitsvoorsiening in geaffekteerde gebiede. Verslae van gelokaliseerde oorstromings word ook aandag gegee,” luidens ‘n verklaring deur die DM.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article