kpip
Karel Bouckaert het die afgelope Dinsdag (12 Mei) sy 100ste verjaarsdag gevier. Foto: Verskaf

‘n Man wie se naam oor dekades heen sinoniem met die Paarl geword het, het die afgelope Dinsdag (12 Mei) sy 100ste verjaarsdag gevier – steeds met ‘n skerp humorsin, helder herinneringe en ‘n lewenslus wat min tekens van ‘n eeu se ouderdom toon.

Karel Bouckaert, pionier in die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf en stigter van die bekende Paarlse onderneming Bouckaert-Soenen, word met sy verjaarsdagpartytjie saam met familie en vriende op die Devonvale-gholflandgoed in Stellenbosch komende Saterdag (16 Mei) vereer en gevier.

Vanuit sy sitkamer, met ‘n uitsig oor die Drakenstein-vallei en ‘n leeftyd se stories agter sy naam, het Bouckaert teruggekyk op ‘n merkwaardige reis wat hom van België na die Paarl geneem het – ‘n dorp wat hy meer as sewe dekades gelede as sy tuiste gekies het.

Bouckaert is oorspronklik van Kortrijk in België en het in 1951, op 25-jarige ouderdom, na Suid-Afrika verhuis. Hy beskryf homself as avontuurlustig en vertel dat sy liefde vir reis hom uiteindelik na die Paarl gelei het, waar hy besluit het om nes te skrop.

Sy vrou, Gilbert, ook van België, het hom later na Suid-Afrika gevolg. Die egpaar het hulle in die Drakenstein gevestig en saam ‘n lewe én ‘n tekstielfabriek opgebou.

Hulle het vier kinders – twee seuns en twee dogters.

Een van die grootste tragedies in Bouckaert se lewe was die dood van een van sy dogters, wat op tienjarige ouderdom in ‘n fietsongeluk oorlede is.

Bouckaert onthou dat hy en sy vrou op dieselfde dag getrou het as waarop sy in die Paarl aangekom het.

Onderneming in motorhuis begin

Hy vertel dat sy liefde vir die Paarl eenvoudig was.

“Ek het die dorp gekies omdat ek daarvan gehou het. Ek het gedink dit is baie mooi.”

As kind het hy gereeld skoolvakansies op sy tannie se plaas, naby Krot-ryk, deurgebring, waar hy onder meer koeie gemelk en perdestalle skoongemaak het.

Sy pa was destyds ‘n belastingsbeampte vir die Belgiese regering.

Voordat hy hom in Suid-Afrika gevestig het, het Bouckaert onder meer tyd in Kanada deurgebring waar hy gestudeer het.

khouihioioiu
Karel Bouckaert in sy jonger dae. Foto: Verskaf

Sy toetrede tot die tekstielbedryf het nederig begin – in sy motorhuis, waar hy klein driehoekige landsvlaggies en ander tekstielprodukte vervaardig het. Die onderneming het later uitgebrei na ‘n fabriek in Turkstraat in die Paarl, waar die onderneming vandag steeds bedryf word.

Bouckaert het mettertyd baan- brekerswerk in die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf gedoen. Sy onderneming het embleme ontwerp wat deur die Suid-Afrikaanse polisiediens, ander staatsdepartemente, skole en sportspanne gebruik is.

Hy vertel ook dat sy onderneming die eerste in Suid-Afrika was wat drukwerk op materiaal gedoen en T-hemde met gedrukte ontwerpe vervaardig het – iets wat later algemeen in die bedryf geword het.

Hoewel Bouckaert reeds in 2004 afgetree het, leef sy nalatenskap voort. Sy seun bestuur tans die familieonderneming, wat deesdae ook in 3D-drukwerk spesialiseer.

Op 100 bly Bouckaert steeds ‘n man met ‘n passie vir stories, ‘n liefde vir die Paarl en ‘n nalatenskap wat diep spore in die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf getrap het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article