“Sarra Viljoen sal jy saam my trou?” staan teen ‘n rots op Paarlberg geskryf.

Inwoners en toeriste wat deesdae na Paarlberg opkyk of dié ikoniese natuurgebied besoek, word deur twee graffiti- merke begroet. Die een vra ‘n persoon genaamd “Sarra” om haar hand, terwyl die ander ‘n blou en pienk hart voorstel.

Volgens ‘n besoeker aan die Paarl wat voorheen ‘n inwoner was en deesdae in Robertson woon, het hy die twee graffiti-merke in November verlede jaar opgemerk nadat sy dogter iets op die berg gewaar en vir hom daarvan vertel het.

Hy het toe die berg deur ‘n verkyker bekyk en die twee graffiti-merke raakgesien.

Die een boodskap, in wit en bokant Bosmanstraat teen ‘n groot rots op Paarlberg, lees “Sarra Viljoen sal jy saam my trou?”

iuhiuh
Graffiti van ‘n pienk en blou hart is op ‘n rots op Paarlberg geteken. Foto: Verskaf

‘n Groot pienk en blou hart pronk teen ‘n ander rots aan die regterkant van dié boodskap.

Volgens David Delaney, die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se senior bestuurder van ruimtelike beplanning en omgewingsbestuur, is dit sover die DM se kennis strek die eerste keer dat die voorkant van Paarlberg met graffiti gevandaliseer is.

Hy sê nadat die graffiti in Januarie vanjaar opgemerk is, het die munisipaliteit pogings aangewend om dit te verwyder, maar dit was tot dusver onsuksesvol aangesien die vandale ‘n soort verf gebruik het wat moeilik verwyderbaar is.

Delaney voeg by dat die munisipaliteit in die verlede wel suksesvol graffiti op ander dele van die Paarlberg-natuurreservaat verwyder het.

Hy sê sodra die huidige nat weersomstandighede verbeter, sal die munisipaliteit verdere pogings aanwend en alternatiewe metodes oorweeg om die graffiti aan die voorkant van Paarlberg te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article