Twee gr. 10-leerders van New Orleans Sekondêre Skool (NOSS) in die Paarl is gekies om die Wes-Kaap by die Nasionale Skole Moot Court-kompetisie in Pretoria te verteenwoordig. Die NSMCC is ‘n prestigeryke jaarlikse inisiatief in Suid-Afrika wat leerders (veral gr. 10 en 11) aan die Grondwet, menseregte en die regswêreld bekend stel.
Kayleb Martin en Gogontle Moagli het aan die provinsiale kompetisie deelgeneem, wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement in samewerking met die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling aangebied is.
Hulle was deel van die top-4 wat die Wes-Kaap verteenwoordig het.
Volgens Jermaine Alexander, ‘n onderwyser by die skool, is hulle ná hul deelname aan die provinsiale kompetisie gekies om op nasionale vlak mee te ding.
Alexander en haar kollega Lesh-ley Abrahams het hulle met die voorbereiding van hul opstelle en mondelinge aanbiedings gehelp.
NOSS is trots op die twee leerders se prestasie en hul geleentheid om die Wes-Kaap op nasionale vlak te verteenwoordig, aldus Alexander.
Altesaam 72 leerders van 36 skole neem deel aan die Nasionale Skole-Moot Court in Pretoria, waar hulle sake beredeneer oor aanlyn gevare wat kinders raak, soos kuberboeliegedrag, seksuele uitbuiting en blootstelling aan onvanpaste inhoud. Die leerders debatteer ook oor die grondwetlikheid daarvan om toegang tot sosiale media vir sekere ouderdomsgroepe tydens skoolure en op skoolterreine te beperk.
LEES OOK: Screen smart: Expert sounds the alarm on how social media exploits youths





