Die lewe van ’n jong Paarlse onderwyser is die afgelope Vrydagaand (28 Augustus) kortgeknip toe hy kort ná ’n botsing tussen twee motors in die Paarl oorlede is.
Cyle Davids (28), ’n onderwyser aan die Laerskool Hugo Rust, was volgens inligting ’n passasier in ’n motor wat deur sy neef bestuur is.
Sy neef is ook in die botsing beseer en is tans in ’n koma.
Die familie moet nou nie net die skielike verlies van Davids verwerk nie, maar ook wag op nuus oor sy neef se toestand.
Volgens die polisie het die botsing tussen ‘n wit Toyota Tazz en ‘n houtskool-grys VW Polo Vivo op die hoek van Bachstraat en Jan van Riebeeckweg plaasgevind.
Davids en sy neef is ná die botsing per ambulans na die hospitaal vervoer. Hy is onderweg na die hospitaal oorlede.
Konst. Ndakhe Gwala, ’n polisiewoordvoerder, het by navraag aan Paarl Post gesê die omstandighede rondom die botsing word steeds ondersoek.
Davids se dood het meer as net sy naasbestaandes geraak. Sy kollegas en leerders by die Laerskool Hugo Rust is ook diep geraak.
Die skool het die dag ná sy dood hulde aan hom op sy Facebookblad gebring. “Met absolute leedwese en diepe skok,” het die skool die nuus van Davids se dood gedeel.
Die skool het sy medelye met Davids se familie en geliefdes betuig en gebid dat hulle in hierdie moeilike tyd krag en vertroosting sal vind.
Paarl Post het na Davids se ma vir kommentaar uitgereik. Sy sou aanvanklik met Paarl Post gesels, maar het later aangedui dat haar wond nog te diep is om op hierdie stadium met die media te praat.





