Die legendariese Ghalieb Hendricks is Dinsdagaand (22 September) ná ‘n kort siekte oorlede. Foto: Verskaf

Paarlse rugbyman sterf op 72 jaar

Die legendariese Ghalieb Hendricks is Dinsdagaand (22 September) ná ‘n kort siekte oorlede. Foto: Verskaf

Die Paarl se rugbygemeenskap treur oor die dood van Ghalieb Hendricks, wie se loopbaan ’n belangrike plek in die geskiedenis van Kaapse rugby ingeneem het.

Hendricks is Dinsdagaand (22 September) ná ‘n kort siekte op die ouderdom van 72 oorlede.

Hy het Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verteenwoordig tydens die apartheidsjare en is later met Springbokkleure vereer.

Waghied Hendricks, Hendricks se neef, het drie dae gelede op Facebook hulde aan hom gebring en hom as ’n besonderse rugbyspeler, familielid, gemeenskapsmens en man van geloof beskryf.

Volgens Waghied het Hendricks as heelagter vir WP gespeel en die span ook as kaptein gelei. Hy het Suid-Afrika deur Saru verteenwoordig en is later met Springbokkleure vereer.

Die voormalige Saru-kaptein Marinus van der Westhuizen het Hendricks jare ná sy speeldae as heelagter in sy persoonlike beste XV gekies, terwyl Aslam Toefy hom volgens Waghied onder die beste spelers gereken het teen wie hy gespeel het.

Vir sy familie was Hendricks egter veel meer as ’n rugbyspeler. Hy was ’n eggenoot, pa van vier, broer, oom en oupa en het volgens Waghied ’n belangrike rol in sy gemeenskap gespeel.

Mark Alexander, president van SA Rugby, het ook hulde aan Hendricks gebring en hom as ’n voormalige Saru-, WP-, Boland- en Vineyards RFC-speler van die Paarl beskryf.

Volgens Alexander het Hendricks ook provinsiale krieket en tennis op ’n hoë vlak gespeel, ’n swart gordel in karate gehad en die Kaapstad-fietstoer tien keer in sy 50’s voltooi.

Randy Marinus, ’n jare lange vriend van Hendricks, sê hulle het saam rugby gespeel, teen mekaar én in dieselfde span.

Volgens Marinus het Hendricks vir Vineyards gespeel en hy vir Gardens. Hulle het mekaar ook in die Paarl-liga teëgekom en saam vir die Protea-span en onder Saru gespeel.

“Ek het hom deur die jare geken, nie net as rugbyspeler nie, maar ook as vriend.”

Pompies Williams het Hendricks van jongs af geken. Die twee het saam in die dorp grootgeword, saam gespeel en later ook saam by Noorder-Paarl Hoërskool (NP).

Williams sê hulle het in 1975, 1976 en 1977 saam gespeel en onthou Hendricks as ’n besonderse speler.

“Ghalieb was ’n besonderse speler. Hy was een van die spelers wat ’n mens altyd raakgesien het wanneer hy op die veld was.”

Vir Williams was Hendricks se waarde egter nie net op die rugbyveld nie.

“Ghalieb was een van my beste vriende. Wanneer ek aan hom dink, dink ek nie net aan die rugby nie, maar aan die jare wat ons saam grootgeword en saam deurgebring het.”

Athol Ontong het Hendricks as ’n rolmodel beskryf en hom as ’n onverskrokke heelagter, goeie verdediger, sterk aanvaller en leier onthou.

Paarl Post het na Hendricks se familie uitgereik vir kommentaar, maar hulle het aangedui dat hulle eers later met die media gaan praat.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article