Die Drakenstein- en Stellenbosch-gevangenisse is ‘n groot bron van kommer nadat 65 dissiplinêre sake en groot ‘n aantal verbode items in die 2025/26-boekjaar by dié twee gevangenisse aangemeld is.
Die Parlement se portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste het hierdie syfer tydens ‘n sitting Dinsdag (5 Mei) wat op die perseel van die Drakenstein-gevangenis plaasgevind het, bekend gemaak.
Die komitee het ook bekendgemaak dat dié bestuursgebied die grootste bydraer is tot dissiplinêre sake binne die departement van korrektiewe dienste (DKD).
Hierdie sake vorm die helfte van die 130 sake wat regoor die land aangemeld is.
Die Drakenstein-bestuursgebied bestaan uit twee gevangenisse inlsuitend Drakenstein geleë langs die R301 asook Stellenbosch op die hoek van Muller en Ryneveldstraat.
Die voorsitter van die komitee, Kgomotso Ramolobeng, het gesê die syfer is uiters kommerwekkend en kan dui op tekortkominge in bestuur.
“Dit is ’n beduidende aantal dissiplinêre sake. Die syfer is besonder hoog en kan moontlik dui op bestuursmislukkings of ’n gebrek aan doeltreffende stelsels. Ons [die DKD] het die nasionale kommissaris reeds vroeër versoek om spesifiek op die Drakenstein-bestuursgebied te fokus, en hierdie bevindings bevestig waarom,” het sy gesê.
Die DKD se nasionale kommissaris is Makgothi Thobakgale wat in 2021 aangestel is.
Tydens die oorsigbesoek op dieselfde dag as dit sitting het die komitee onder meer die Drakenstein-gevangenis se kombuis, bakkery, skool, mediese eenheid, werkswinkels en gevangenisselle besoek, waar tydens die bakkery geloof is vir die produksie van sowat 1 500 brode per dag wat ook aan ander korrektiewe sentrums voorsien word.
Ramolobeng het gesê dié selfonderhoudende projek dra by tot kostebesparing vir die departement, maar het gewaarsku dat verskeie stukke toerusting dringend herstel moet word.
“Twee van die drie mengers werk nie en een oond is ook buite werking. In die kombuis kan vier van die tien potte gebruik word nie, en sommige van die masjinerie in die werkswinkels is ook stukkend. Dit plaas ekstra druk op die oorblywende toerusting en verhoog die risiko van verdere probleme. Hierdie kwessies verg dringende aandag,” het sy beklemtoon.
Die komitee het verder sy kommer oor die hoeveelheid verbode itemas wat gedurende 2025/26 in die bestuursgebied gekonfiskeer is, uitgespreek. Dit sluit 634 selfone en 595 mandrax-tablette in.

Nóg ’n probleem wat uitgelig is, is die praktyk waar middag- en aandetes gelyktydig aan gevangenes bedien word, iets wat volgens die komitee nie volgens die DKD se standaardbedryfsprosedures bestuur word nie.
Oorbevolking bly ook ’n groot uitdaging. Die fasiliteite binne die Drakenstein-bestuursgebied het bedspasie vir 1 361 gevangenes, maar huisves tans 1 851 gevangenes, insluitend 227 gevangenes met geestesversteurings wat van geestesgesondheidsorg gebruik maak.
Ramolobeng het daarop gewys dat oorbevolking dikwels bydra tot veiligheidsinsidente binne korrektiewe sentrums, soos die dood van ‘n gevangene in Maart in die Drakenstein-gevagenis.
Volgens ‘n betroubare bron is ‘n gevangene glo middel-Maart deur ‘n onbekende aantal bewaarders aangerand en noodlottig gewond ná ’n beweerde aanval op ’n korrektiewe beampte. Volgens die bron het die gevangene na bewering ’n bewaarder met ’n skerp voorwerp in die gesig gesteek voordat die gevangene deur die bewaarders aangeval is.
Volgens die komitee dui vroeë aanduidings daarop dat dié voorval moontlik bendeverwant wees, maar die ondersoek is nog nie afgehandel nie.
Dit is egter nie die eerste gewelddadige voorval in dié afdeling nie. In Februarie 2023 is vier bewaarders glo deur vyf gevangenes met selfgemaakte skerp voorwerpe aangeval kort nadat selle oopgesluit is.
Ramolobeng het gesê die komitee kon nie tydens die besoek alle dele van die fasiliteit inspekteer nie en sal terugkeer vir ’n meer omvattende ondersoek, asook om opvolg te doen oor aanbevelings wat aan die departement gemaak is.
Paarl Post het oor die jare verskeie kere oor beweerde wanadministrasie by Drakenstein-gevangenis verslag gedoen.
’n Groep bewaarders het in Januarie 2024 ’n brief aan die destydse minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola gestuur waarin ernstige aantygings teen die destydse hoof van die Drakenstein-gevangenis, Ntomboxolo Kungune gemaak is.
Die bewaarders het Kungune onder meer van magsmisbruik, wanadministrasie en vrugtelose en verkwistende besteding beskuldig. Die klagtes het gewissel van administratiewe kwessies tot probleme rakende personeelbehuising.
Volgens die brief sou Kungune glo bevoegde personeel wat van haar verskil, uit hul poste verwyder en met junior amptenare vervang wat haar ondersteun. Sy is ook daarvan beskuldig dat sy ’n buitengewone groot aantal personeellede geskors het.
Nog aantygings het gehandel oor die toekenning van personeelbehuising binne die gevangenis. Volgens die brief het Kungune glo die behuisingskomitee ontbind en self huise aan amptenare toegeken sonder om die korrekte kriteria te volg.
Daar is ook kommer uitgespreek oor die toestand van die gevangenis se abattoir, wat vleis aan korrektiewe fasiliteite oor die land heen voorsien.
Volgens die bewaarders is ervare personeel glo met onopgeleide werkers vervang, wat tot produksievertragings en swak doeltreffendheid gelei het.
Hulle het verder beweer dat hoenders en varke langer as die normale slagouderdom aangehou word, wat voeronkoste verhoog en produksiekoste opstoot.
Buiten hierdie bewerings het Paarl Post óók berrig oor ‘n beweerde beplande inbraak en diefstal van 400 kuikens in April 2025 wat misluk het.
Die koerant het ook verslag gedoen oor twee bewaarders wat in 2021 gevang is met verbode items, insluitend dwelms en selfone asook ‘n hondemeester wat in 2023 met dwelms betrap is. Al drie is intussen afgedank.
Verder het die koerant verslag gedoen oor ‘n DKD-beampte wat in 2023, na bewering ‘n minderjarige op die gevangenis se terrein aangerand het.




