Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) wil in die nuwe boekjaar geld beskikbaar stel om self verantwoordelikheid vir die skoonmaak van die Bergrivier te neem.
Dit volg nadat die GOOD Party die toestand van die rivier en die behoefte aan gereelde instandhouding in Mei by die munisipaliteit se openbare veiligheidsportefeuljekomitee geopper het.
Volgens ‘n verklaring deur Keagen Gertse (GOOD-raadslid) het die party op 14 Mei met die komitee geskakel nadat ‘n inwoner oor die toestand van die rivier gekla het.
“Waterweë soos die Bergrivier vereis deurlopende verwydering van onkruid, rehabilitasie van plantegroei en die verwydering van sediment om die rivier se gesondheid te herstel en te voorkom dat dit sy walle oorstroom en omliggende gebiede raak,” het Gertse gesê.
GOOD het voorgestel dat die munisipaliteit die leiding neem om die rivier gereeld skoon te maak en te rehabiliteer.
Die party het ook aanbeveel dat die nasionale departement van water en sanitasie by die proses betrek word, aangesien riviere onder die jurisdiksie van die nasionale regering val.
Volgens Gertse se verklaring het die munisipaliteit se uitvoerende direkteur, Eda Barnard, op 8 Junie aan die komitee terugvoer gegee dat die departemente van openbare veiligheid en ingenieursdienste tans na begrotingsbeskikbaarheid vir die 2026-’27-boekjaar kyk.
Hy sê die doel is dat die munisipaliteit in die toekoms self verantwoordelikheid vir die skoonmaak van die rivier sal neem om jaarlikse oorstromings te help beperk.
Die DM het intussen bevestig dat hy reeds betrokke is by die instandhouding van gedeeltes van die Bergrivier binne die munisipale gebied.
Volgens Louis Pienaar, die DM se uitvoerende dirkekteur van ingenieursdienste, werk die munisipaliteit saam met die Bergrivier Watergebruikersvereniging, die nasionale departement van water en sanitasie en die Wes-Kaapse departement van landbou om die rivier se ekologiese gesondheid te beskerm.
LEES OOK: R1,4 miljard vir Drakenstein se rioolstelsel
Pienaar het verduidelik dat die DM se operasionele begroting voorsiening maak vir die instandhouding van riviere en oop ruimtes, hoewel die Bergrivier nie oor ‘n afsonderlike begrotingslyn beskik nie.
Waar toegang moontlik is, verwyder skoonmaakspanne afval, rommel en indringerplante wat die rivier se vloei en gesondheid beïnvloed, volgens hom.
Die rivier word ook maandeliks gemonitor om probleemgebiede vroegtydig te identifiseer.
Pienaar het verduidelik dat die onwettige storting van afval en besoedelstowwe wat deur stormwaterafloop in die rivier beland, steeds die grootste oorsake van besoedeling is.



