ijoojiiojjio
‘n Inwoner van die Drakenstein staar twee aanklagte van intimidasie in die gesig. Foto: Argief/ Jana Scbeepers

Polisie arresteer man oor beweerde intimidasie van klaer in verkragtingsaak

ijoojiiojjio
‘n Inwoner van die Drakenstein staar twee aanklagte van intimidasie in die gesig. Foto: Argief/ Jana Scbeepers

‘n Inwoner van die Drakenstein is vandag (25 Junie) gearresteer en staar ‘n klag van van intimidasie in die gesig nadat die familie van die 21-jarige student aan Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT), wat twee Paarlse klubrugbyspelers van verkragting beskuldig, ‘n klagte teen hom aanhangig gemaak het.

Die jongste saak is op 24 Junie by die Wellington-polisie geopen, terwyl ‘n soortgelyke intimidasiesaak reeds op 8 Mei teen dieselfde man geregistreer is.

Sers. Ndakhe Gwala, woordvoerder van die Wes-Kaapse-polisie, het bevestig dat ‘n saak van intimidasie geopen is na aanleiding van ‘n reeks sosialemediaplasings wat op 8 Mei en 23 Junie gemaak is.

“Die saak is op 24 Junie geregistreer. Geen inhegtenisneming is in hierdie stadium gemaak nie. Die omstandighede rondom die saak vorm deel van ‘n deurlopende ondersoek,” het Gwala gesê.

Volgens betroubare inligting hou die sake verband met plasings op sosiale media waarin die man sy steun vir die twee beskuldigdes uitgespreek het. Daar word verder beweer dat die plasings die identiteit en woonadres van die klaer bekend gemaak het.

Die man het in ‘n onlangse sosialemediaplasing ‘n foto van homself voor die KSUT-student se studentewoning geneem en gevra dat studente nie die studentehuis ondersteun nie en van die huis af “wegbly”.

Volgens inligting voer die klaer aan dat slagoffers van seksuele misdrywe beskerm behoort te word en dat die beweerde optrede daarop gemik was om haar verder te viktimiseer.

Kommentaar is ook aangevra van die man teen wie die bewerings gemaak word. Hy ontken dat hy hom aan intimidasie skuldig gemaak het en voer aan dat hy geen onreg gepleeg het nie, aangesien die betrokke foto, volgens hom, in ‘n openbare ruimte geneem is.

Hy sê voorts Suid-Afrika is ‘n demokrasie wat die reg op vryheid van uitdrukking beskerm, en dat hy daarom geregtig is om sy menings en plasings op sosiale media te deel.

Hy verskyn Maandag in die Wellington-landdroshof.

Verkragtingsaak

Die twee beskuldigdes in die verkragtingsaak, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan gesamentlik tereg op vier aanklagte van verkragting van die 21-jarige student.

Volgens die bewerings is die student in die vroeë oggendure van 27 April vier keer in haar kamer by ‘n studentehuis verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ‘n saamrygeleentheid van ‘n nagklub in Newton, Wellington, na haar studentebehuising gegee het.

Beide beskuldigdes is op 27 April in hegtenis geneem.

LEES OOK: Paarlse klubrugbyspelers wat van verkragting beskuldig word op borgtog vrygelaat

Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n bekende rugbyklub in die Boland en sou na bewering op 3 Mei by ‘n nuwe rugbyklub in Limpopo aansluit.

Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.

Die saak is tot 5 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel nadat die twee beskuldigdes op borgtog van R3 000 elk vrygelaat is.

Hierdie berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article