Eben het ‘n “tweeling”-broer – Anthony Smit van die Paarl

Anthony Smit (26), van die Paarl word konstant verwar met Eben Etzebeth. Foto: Instagram

Eben het ‘n “tweeling”-broer – Anthony Smit van die Paarl


Anthony Smit (26) is al sowat sewe jaar lank ’n bekende gesig in die Paarl, maar mense gebruik nie altyd sy eie naam wanneer hulle hom groet nie.

Dié Vrystaatse boorling, wat as streekbestuurder vir ACS Construction werk, word gereeld met die Springbok-slot Eben Etzebeth verwar. Volgens Smit gebeur dit so gereeld dat hy mense maar gewoonlik dadelik reghelp.

Die verwarring het al tot ’n paar skreeusnaakse oomblikke gelei. Tydens ’n vakansie in die Tuinroete-omgewing het Smit met ’n hoed op die kop by ’n biltongwinkel ingestap. ’n Vrou wat daar gesit het, het hom gesien en glo só groot geskrik dat sy amper agteroor van haar stoel af geval het.

“Eben,” het sy uitgeroep voordat sy besef het dat hy nie Etzebeth is nie.

Smit sê dit was vir hom bloot ’n snaakse oomblik, veral omdat sy aanvaklik so oortuig was dat dit die Springbok voor haar is.

Die verwarring het hom uiteindelik ook in ’n Klipdrift-lookalike-kompetisie laat beland. Smit was aanvanklik nie lus om in te skryf nie, maar nadat vriende aangehou het om foto’s van hom vir die kompetisie in te stuur, het hy uiteindelik besluit om tog in te skryf, waarna hy die kompetisie gewen en die geleentheid gekry het om deel van die handelsmerk se bemarkingsveldtog te wees.

Vir Smit was daar egter reeds ’n soortgelyke bevestiging van die ooreenkoms by ’n hokkiewedstryd waar sy vrou, Nadja, gespeel het. “Langs die hokkieveld was daar ‘n rugbyveld; ‘n klomp klein seuntjies het daar gespeel en ek het verby hul kleedkamer geloop. Toe begin die klomp rondom my te kloek en te stry oor wie ek is en wat ek doen,” vertel hy laggend.

Hy het kort voor die voorval sy hare gesny.”Ek het gedink omdat my hare kort is, lyk ek nie meer soos Eben nie,” sê hy.

Die reaksie van die jong rugbyspelers het hom egter laat besef die ooreenkoms is steeds daar.

Dit is veral ironies omdat Smit self op skool en universiteit rugby gespeel het – ook as slot. Hy sê Etzebeth is natuurlik ’n speler wat hy graag sou wou ontmoet.

Smit het ná sy Klipdrift-oorwinning die geleentheid gekry om ’n Springbok-wedstryd by Ellispark in Johannesburg by te woon. Hy en die ander wenners is op die handelsmerk se koste Johannesburg toe gevlieg en het goeie sitplekke vir die wedstryd gekry.

Hulle het selfs ’n moontlikheid gehad om ná ’n Bok-oorwinning toegang tot die kleedkamers te kry, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie. Dit sou vir hom ‘n droom gewees het wat waar geword het – veral omdat hy ‘n baie groot Springbok-ondersteuner is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article