Bewerings het na vore gekom dat daar bevooroordeelde toewysings van erwe by die Lovers Lane-projek in die Paarl plaasvind, waarvolgens lede van die informele nedersetting se komitee voorkeur aan hul eie familielede sou gee.
Die Lovers Lane-projek behels die opgradering van die bestaande informele nedersetting. Volgens die munisipaliteit is die begunstigdes bona fide-inwoners wat reeds in dié gebied woon.
Volgens die Drakenstein-munisipaliteit kos die projek R16 miljoen en word deur die Wes-Kaapse departement van mobiliteit finansier.
Die Drakenstein-munisipaliteit het die afgelope Maandag (12 Oktober) by navraag aan Paarl Post gesê hy is bewus van die bewerings van begunstiging met die toewysing van erwe by die Lovers Lane-informele nedersetting, maar volgens sy rekords is daar slegs een bekende geval van onwettige perseelbesetting.
Die munisipaliteit het onmiddellik ‘n proses begin om die persoon wat die spesifieke eiendom beset van die perseel te verwyder.
Volgens Eda Barnard, direkteur van veiligheid en gemeenskapsdienste, is die proses steeds aan die gang.
Die reaksie volg nadat ‘n raadslid van die munisipaliteit glo beweer het dat minstens sewe erwe onregmatig toegeken is en dat lede van die Lovers Lane-komitee erwe aan hul eie famililede toewys.
Die Drakenstein-munisipaliteit sê geen verdere besonderhede oor die beweerde onwettige toewysing of besetting van persele is tot dusver aan die munisipaliteit verskaf nie.
“Indien die munisipaliteit besonderhede oor spesifieke en gestaafde bewerings ontvang, sal ons dit dienooreenkomstig ondersoek,” het die munisipaliteit aan Paarl Post gesê.
Die Drakenstein-munisipaliteit het ook bevestig dat die persoon wat glo die uitlatings gemaak het nie ‘n raadslid van die munisipaliteit is nie.
Die munisipaliteit sê klagtes en kommer oor die projek word deur formele konsultasiestrukture met die plaaslike gemeenskap hanteer.
‘n Kontrakteur installeer tans riool-, water- en elektrisiteitsdienste en lê paaie aan. Sodra die werk voltooi is, sal elke geformaliseerde perseel sy eie diensaansluitings en toegangspaaie hê, aldus die munisipaliteit.
Volgens die munispaliteit vorder die projek goed, met positiewe konsultasies en sterk gemeenskapsondersteuning.
Die munisipaliteit sê voorts sake van gemeenskaplike belang word in gevestigde gemeenskapsforums bespreek.





