Haweloses woon al jare onder die Markstraat-brug. Foto: Chantélle Hartebeest/Argief

Markstraat-brug bly munisipale kopseer


Terwyl ‘n nuwe heining by die Cecilia- straat-brug opgerig is, bly die veelbesproke plakkery en onwettige besetting onder die Markstraat-brug ‘n hardnekkige probleem in die Paarl.

Die bruggebied het oor die jare herhaaldelik aandag van wetstoepassers gekry, maar haweloses keer kort ná opruimingsoperasies weer terug. Die gebied was ook voorheen die toneel van ernstige voorvalle.

LEES OOK: Markstraat-brug laat almal sug

‘n Metaalheining by die Ceciliastraat- brug is onlangs vervang om toegang tot die riviergebied te beperk. Volgens die Drakenstein-munisipaliteit is dié heining egter nie spesifiek as ‘n nuwe maatreël teen onwettige besetting opgerig nie.

Saul Jacobs, Drakenstein se hoof van wetstoepassing en veiligheid, sê die munisipaliteit is bewus van die uitdagings by die Markstraat-brug.

“Drakenstein-munisipaliteit is bewus van die uitdagings wat die situasie by die Markstraat-brug in die Paarl vir die gemeenskap inhou en beskou die saak in ‘n ernstige lig,” sê Jacobs.

Hy sê wetstoepassingsbeamptes tree gereeld in die gebied op.

“Die munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes voer gereeld operasies in die gebied uit om onwettige besetting aan te spreek.”

Volgens Jacobs het die verskil tussen die twee brûe eerder te doen met die ligging van die strukture en die instandhouding van bestaande infrastruktuur.

“Die heining by die Ceciliastraat-brug was reeds in plek en is onlangs as deel van roetine-instandhoudingswerk vervang, terwyl die gebied onder die Markstraat-brug binne die rivierloop val, wat die situasie meer kompleks maak.”

Jacobs verduidelik dat daar tans na ‘n langertermyn-oplossing gekyk word wat die Markstraat-brug betref.

“Die munisipaliteit is tans in ‘n proses, waarby verskeie afdelings en rolspelers betrek word, om ‘n volhoubare oplossing binne die raamwerk van toepaslike wetgewing te vind wat ook deur die munisipaliteit se begroting ondersteun word,” sê Jacobs.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article