Die verkragtingsaak teen twee klubrugbyspelers van die Paarl is vandag (13 Oktober) in die streekhof in die Paarl aangehoor.
Die saak is tot 10 Desember uitgestel wanneer ‘n voorverhoor na verwagting gehou sal word. Die saak is uitgestel om die staat die geleentheid te gee om ’n afskrif van die polisiedossier aan die verdediging te verskaf en om die verdediging toe te laat om met sy kliënte te konsulteer.
Die hof het ook ‘n wysiging van beskuldigde nommer 1 se borgtogvoorwaardes toegestaan. Hy mag nou op Pelikaanpark oefen en aan die Top-12-rugbykompetisie deelneem. Indien sy span die eindstryd haal, mag hy ook by die Bolandstadion speel.
Die twee staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT).
Volgens die bewerings is die student in die vroeë oggendure van 27 April vier keer in haar kamer by ’n studentehuis verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ’n saamrygeleentheid van ’n nagklub in Newton, Wellington, na haar studentebehuising gegee het.
Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ’n bekende rugbyklub in die Boland, terwyl die 28-jarige beskuldigde vir ’n rugbyklub in die Swartland-distrik uitgedraf het.
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weens die aard van die aanklagte weerhou. Die klaer se naam word eweneens weerhou.
Die saak is voorheen van die landdroshof in Wellington na die streekhof in die Paarl oorgeplaas.
LEES MEER: Rugbyspelers se verkragsaak na streekhof in Paarl oorgeplaas


