Tricia Surve
Gr.6- en gr.7-seuns van Newton Primêr in Wellington woon ‘n bemagtigingsessie by. Foto: Jana Scheepers

Die Tricia Survé-stigting het voorverlede Saterdag (11 April) ‘n ­omvattende bemagtigingsprogram vir seuns van die Newton Primêre Skool in Wellington aangebied, met die fokus op leierskap, dissipline en die bou van veerkragtigheid.

Die “Empowering the Young Boy Child Programme” het ‘n dag lange program aangebied, wat daarop gemik was om seuns toe te rus met die vaardighede en waardes wat nodig is om uitdagings in hul gemeenskappe te oorkom.

Die program het begin met ‘n kunswerksessie, aangebied deur Tasneem Chilwan, en is gevolg deur die openingswoorde van Tricia Survé, die stigter van die Tricia Survé-stigting.

Daarna het verskeie sprekers opbeurende en inspirerende boodskappe met die gr.6- en gr.7-seuns asook hul ouers gedeel.

Onder die sprekers was Muhammad Sayed, ‘n lid van die ANC, wat oor leier­skap en aanspreeklikheid gepraat het, asook Joe Lottering, die voorsitter van die skool se beheerliggaam, wat die rol van familie, skool en gemeenskap in die vorming van seuns beklemtoon het.

Olivia Losper, die eienaar van die LivFit-gimnasium in die Paarl en wat self ook ‘n leerder by Newton was, het op haar beurt op fisieke en geestelike gesondheid gefokus en die leerders geïnspireer om elke dag hul beste te gee.

Die program het ook gemeenskaps- en ondersteuningsperspektiewe ingesluit.

Tricia Surve
Olivia Losper, die eienaar van die LivFit Fitnesss Stuido in die Paarl, spreek die seuns toe. Foto: Jana Scheepers

‘n Verteenwoordiger van die Mbekweni-polisie het die werklikheid van misdaad en dwelmgebruik bespreek, terwyl geestelike en motiveringsprekers jongmense aangemoedig het om beter keuses vir hul toekoms te maak en te midde van uitdagings gefokus te bly.

Die program het ook ‘n ouersessie ingesluit, waar gefokus is op die versterking van gesinsondersteuning en die aandurf van gemeenskapsuitdagings.

Die geleentheid, het Survé in ‘n ondderhoud gesê, is deel van ‘n groter poging om seuns in kwesbare gemeenskappe te bemagtig en hulle op ‘n positiewe lewenspad te plaas.

Volgens Survé het sy haar stigting twee jaar gelede gestig met die doel om vroue en kinders by te staan. Sy sê sy het in die program spesifiek op gr.6- en gr.7-seuns gefokus om hulle te bemagtig om die regte keuses te maak.

Buiten haar suksesvolle stigting, wat talle programme in die Drakenstein – en spesifiek Newton – asook in Kaapstad bestuur, is sy ook ‘n voltydse ma en ‘n doktorale kandidaat wat op diplomatieke protokol in drie lande in Afrika fokus.

Volgens haar finansier sy tans haar stigting self, asook onderwysers by die Litte Stars pre-primêreskool in Newton, Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article