LKJHIJHIU
Die verkragtingsaak teen twee mans duur voort in die Wellington-landdroshof. Foto: Argief/ Jana Scheepers

WELLINGTON – Die Wellington-landroshof het vandag (8 Mei) gehoor dat twee Paarlse rugbyspelers (23 en 28) wat vier aanklagte van verkragting in die gesig staar glo die klaer in die saak in groepsverband in haar studentehuis op 26 April verkrag het.

Hiérdie inligting het uitgekom tydens die beskuldigdes se voortgesette borgaansoek.

Dit was vandag die staat se beurt om hul verweer te lewer. Die staat, by monde van Melissa van der Byl as aanklaer, staan borgtog teen.

Die beweerde verkragting spruit glo uit ‘n voorval waar ‘n student verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus verlede week in haar kamer in ‘n studentehuis verkrag is.

Kol. Winston Pegram, die ondersoekbeampte van die Paarlse Eenheid vir Gesinsgeweld en Kinderbeskerming (FCS), het vandag die getuiebank betree en was deur die staat ondervra.

Beweerde verkragting

Volgens Pegram is die klaer eers deur die 23-jarige beskuldige verkrag, waarna sy deur sy vriend (28) verkrag is.

Die klaer beweer dat die twee beskuldigdes haar daarna glo elk nog ‘n keer verkrag het en dat haar mond met elke verkragting toegehou is.

Pegram het verder getuig dat kringtelevisiekameras by die studentehuis wys dat die klaer saam met die beskuldigdes daar aangekom het en dat hulle sowat 45 minute later weg is.

Hierdie getuienis is in teenstelling met die 23-jarige beskuldigde se verklaring wat beweer dat hulle slegs sewe minute saam met die klaer was voordat hulle gevra is om die perseel te verlaat.

Mediese ondersoek

Pegram het verder aangedui dat die J88-vorm wat deur ‘n dokter ingevul word en gebruik word om fisiese bewyse van beserings in kriminele sake aan te dui, twee beserings aan die klaer aangeteken het.

Volgens die vorm het die klaer se vroulike liggaamsdeel beserings opgedoen wat toegeken kan word aan “penetrasie met ‘n stomp voorwerp,” terwyl haar posterior commissure, die area aan die agterkant van die vroulike geslagsdeel, klein skeurtjies bevat het.

Media-aandag

Volgens Pegram se getuienis het die saak wydverspreide reaksie op sosiale media ontlok en beduidende media-aandag geniet. Hierdie aandag het gelei tot misinformasie, onder andere ‘n foto van ‘n vrou wat ‘n TikTok-verbruiker glo verkeerdelik geïdentifiseer het as die klaer.

Vorige seksuele omgang

Die staat het ook verweer aangeteken dat die beskuldigde verbonde aan ‘n gewilde Bolandse-rugbyklub, in sy beëdigde verklaring aangedui het dat hy en die klaer seksuele omgang met wedersydse toestemming in 2025 gehad het.

Hy het in sy verklaring aangevoer dat die seksuele omgang in dieselfde kamer en op dieselfde bed as die onlangse beweerde verkragting plaasgevind het.

Die rugbyspeler se medebeskuldigde het glo dieselfde aand in die klaer se kamer oorgeslaap.

kjnkj
Die publiek het in groot hoeveelhede opgedaag om die saak te volg. Foto: Jana Scheepers

Die staat het aangevoer dat hierdie insident nie moet deelvorm van die hofsaak nie en het vir die landdros, Martie Wilson, gevra om dit in ag te neem.

Die saak is uitgestel tot 14 en 15 Mei waar die verdediging by monde van Elton Rochert van Rochert Attorney, sal kans kry om die ondersoekbeampte te ondervra.

Die publiek het in groot hoeveelhede opgedaag om die saak te volg en om hul ondersteuning vir die twee beskuldigdes te wys. Die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) was ook daar om te verseker hofverrigtinge word nie ontwrig nie.

LEES OOK: Rugbyspeler, vriend vra borg ná vier verkragtingsaanklagte; staat staan dit teen

Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.

Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article