Ashley Hendricks buite sy woning in Saint Bazilstraat, Wellington. Foto: Rasaad Adams

‘n Gesin van Saint Bazilstraat in Vanwyksvlei, Wellington, sê hulle is nou net mooi keelvol en raadop oor die skade wat die afgelope meer as tien jaar aan hul eiendom berokken is weens ‘n munisipale rioollyn wat hul erf feitlik weekliks oorstroom.

Die gesin sê hulle is ook bekommerd oor die gesondheidsrisiko wat die riool voordurend inhou.

Die huiseienaar, Ashley Hendricks, sê drukking op die foutiewe munisipale rioollyn is soms so sterk dat die afvalwater by die kombuiswasbak en bad uitborrel.

Die gesin sê die riool vloei soms by die bad ook uit.

“Die munisipaliteit is bewus. Hulle is so te sê elke week hier. As ek bel, hoef ek nie eens meer baie te verduidelik nie – ek moet net my straatadres gee,” het Hendricks vertel.

“En dit het nie gister begin nie. Ons sit nou al vir langer as tien jaar met hierdie probleem. Ons het oor die jare al so baie besittings verloor.

“Dis nie net riool nie, maar in die winter is die stormwater ook ‘n probleem. Ons huis is feitlik elke winter onder water.

“Dit vloei soms so sterk by die wasbak uit dat ons bakstene bo-op die prop moet sit. Die huis stink. Ons het dit al by die gesondheidsafdeling aangemeld en hulle het net gesê daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Hendricks het die gesin al die voorstel aan die munisipaliteit gemaak dat die eiendom verkoop word en hulle na ‘n ander perseel verhuis.

Rioolmateriaal is onlangs op die gesin se erf weens ‘n foutiewe munisipale rioollyn sigbaar.

Hy sê hierdie spesifieke deel van Saint Bazilstraat is kwesbaar vir oorstromings en die enigste praktiese opsie in die langtermyn sal wees dat die gesin die woning ontruim.

Joseph Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se senior bestuurder vir water- en riooldienste, het by navraag bevestig dat die munisipaliteit bewus is van dié rioolprobleem.

“Twee rioollyne met ‘n deursnee van 150 mm sluit naby Saint Bazilstraat by ‘n mangat aan. Een van hierdie lyne loop binne die boulyn van Erf 20 in Saint Bazilstraat.

“Wanneer die munisipaliteit klagtes ontvang, word dit dadelik opgevolg. Dit is belangrik om daarop te let dat blokkasies meestal veroorsaak word deur vreemde voorwerpe wat in die rioolstelsel beland of daarin gegooi word, soos bourommel, lappe, vette, olie, papier en selfs dooie diere,” het Barnard verduidelik.

Hy sê die munisipaliteit het ‘n volledige tegniese ondersoek afgehandel en reeds regstellende konstruksiemaatreëls ingestel.

“Ons het ‘n sand-/rommelvanger binne die hoofrioollyn, wat deur Weltevrede Sekondêre Skool loop, gebou. Hierdie installasie is bedoel om blokkasies in die netwerk te verminder.

“Die munisipaliteit sal gedurende hierdie boekjaar ‘n bykomende sand-/rommelvanger by die punt waar die twee rioollyne naby Saint Bazilstraat saamkom, bou. Die doel van hierdie vanginstallasies is om vreemde materiaal vas te vang voordat dit die hoofrioollyne binnekom en sodoende die frekwensie van blokkasies verminder,” verduidelik Barnard.

Hy sê om reuke en gesondheidsrisiko’s te beperk, gebruik die munisipaliteit neutraliserende middels soos kalk en ontsmettingsmiddels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article