Die Drakenstein-munisipaliteit sal eersdaags ook veiligheidskameras in Paarl-Oos, Noorder-Paarl, Suider-Paarl en ander prioriteitsgebiede in Wellington aanbring.
Die Drakenstein-munisipaliteit sal eersdaags ook veiligheidskameras in Paarl-Oos, Noorder-Paarl, Suider-Paarl en ander prioriteitsgebiede in Wellington aanbring.

Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek aangekondig dat hy eersdaags ook veiligheidskameras as deel van sy groeiende netwerk van kringtelevisiemonitering in ses prioriteitsgebiede in Paarl-Oos, Noorder- Paarl, Suider-Paarl en Wellington gaan aanbring.

Paarl Post het in Maart vanjaar berig dat dat die eerste stel kameras – wat elk soveel as R105 000 kos – in Wellington se wyk 10 as deel van munisipale misdaadbekamping geïnstalleer is.

LEES: ‘Kameras maak dorp veiliger’

Saul Jacobs, die munisipaliteit se hoof van wetstoepassing en veiligheid, het vandeesweek by navraag gesê kameras is ook intussen by prioriteitsgebiede in Gouda en Saron aangebring.

“Die munisipaliteit is besig om sy groei- ende netwerk kringtelevisiekameras, wat ten doel het om die publiek te beveilig, verder uit te brei.

“Die kameras wat ons reeds aangebring het, het al bygedra tot die inhegtenisneming van talle verdagtes en tot ‘n skerp afname in voorvalle van misdaad in die onmiddellike omgewing gelei,” verduidelik Jacobs.

“Ons installeer eersdaags nog kameras in ses prioriteitsgebiede in Paarl-Oos, Noorder-Paarl, Suider-Paarl en Wellington om misdaad daar te help bekamp,” voeg hy by.

Volgens Jacobs beloop die koste van een kamera tot R105 000, waarvoor in die munisipaliteit se 2025-’26-begroting voorsiening gemaak is.

Eda Barnard, Drakenstein se direkteur vir openbare veiligheid, verduidelik dat die kameras deel is van die munisipaliteit se omvattende veiligheidsplan om hoërisiko-misdaadgebiede, sentrale sakegebiede, sleutelgeboue en munisipale infrastruktuur te beskerm.

“Die hoofdoel van die kameras is om misdaadvoorkoming te ondersteun en dit is deel van ons Drakenstein Slim Veiligheidsnetwerk-inisiatief (DSVN), wat gebruik maak van gevorderde tegnologie om misdaad te bekamp en sterk op samewerking tussen ‘n netwerk veiligheidsvennote steun,” verduidelik Barnard.

Volgens haar sluit die vennote die munisipaliteit se wetstoepassings-, verkeers-, brand- en reddingsdienste in. Die polisie, buurt- en plaaswagte, GPF’s en private veiligheidsfirmas is ook aan boord.

“Die kameras word 24 uur per dag deur ons DSVN-beheerkamer in die Paarl gemonitor, wat onlangs opgradeer is en deur amptenare van die munisipaliteit se openbare veiligheidsafdeling beman word.”

Jarque Jacobs, voorsitter van die Wellington-GPF, het die kameras voorheen al verwelkom en gesê die projek is in verskeie opsigte ‘n aanwins vir die Wellingtonse gemeenskap.

“Hierdie gebied in wyk 10 val onder die sektor 2-polisiëringsgebied en is inderdaad ‘n brandpunt vir misdaad, soos tereg deur die munisipaliteit uitgewys.

“Ons glo dat hierdie kameras misdadigers sal afskrik.

Ons glo ook dat dit as ‘n verdere veiligheidsmeganisme en moniteringstelsel vir die nabygeleë sakeondernemings sal dien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article