Swartland Gazette

Pa hét sy biologiese dogters kleintyd verkrag, bevind hof

'n Pa van drie dogters is skuldig bevind aan hul verkragting. Foto ter illustrasie.
‘n Man van Malmesbury het Maandag ná byna vyf jaar sedert sy aanvanklike inhegtenisneming in 2021, skuld beken op al drie aanklagte van verkragting op sy drie biologiese dogters. Credit: Lukas Gojda

MALMESBURY – ‘n 51-Jarige man van Malmesbury het Maandag (17 November) ná byna vyf jaar sedert sy aanvanklike inhegtenisneming in 2021, skuld beken op al drie aanklagte van verkragting op sy drie biologiese dogters. Al drie sy dogters was tydens die gebeure minderjarig.

Elkeen is volgens sy pleitverduideliking, wat verlede week by die hof ingelees is, tussen die ouderdomme van vier en ses jaar tot en met 12-jarige ouderdom, seksueel voorberei en verkrag. Die seksuele misdrywe het onder meer in die omgewing van Malmesbury, Gansbaai en die noordelike voorstede plaasgevind.

Volgens bronne na aan die familie is hulle verlig dat hy uiteindelik skuldig bevind is, maar is teleurgestel toe sy onmiddelike inhegtenisneming deur regter Phakama Madinda van die hand gewys is nadat hy vir die eerste en enigiste keer in Desember 2021 in hegtenis geneem is – net om weer twee dae later weens onsekerheid oor watter hof die saak moes aanhoor, op waarskuwing vrygelaat is.

LEES OOK: ‘Verkragter’ nog nie agter tralies

Die beskuldigde het sporadies oor die meer as vier jaar in die plaaslike landdroshof verskyn waartydens hy intussen van drie regsverteenwoordigers verander het.

Die verkragtings het oor ‘n tydperk van 12 jaar – tussen 2008 en 2020 – plaasgevind totdat sy oortredings op die lappe gekom het. Die seksuele misdrywe het volgens sy pleitverduideliking gebeur wanneer hy na hul kinders moes omsien terwyl hulle ma gaan werk het. Die beskuldigde se huwelik het in 2007 volgens hom verbrokkel weens ‘n gebrek aan intimiteit tussen die egpaar, asook toe hy sy werk en hul huis verloor het.

Die beskuldigde is in Oktober 2023 deur die hof na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal vir waarneming verwys nadat ‘n private sielkundige verslag aangevoer het die beskuldigde se brein “skakel af” wanneer hy die dade pleeg. Volgens die verslag uitgereik en wat op 9 Oktober daardie jaar in die hof aangehoor is, het die beskuldigde nie geweet wat hy ten tyde die oortredings doen nie. Hy was wel agterna bewus van sy oortredings. Die hof het ook gehoor hoe die beskuldigde glo self op die ouderdom van vyf sekueel gemolesteeer is. Die pa is egter eers in Februarie vanjaar by die psigiatriese hospitaal vir waarneming ingeneem weens ‘n waglys.

Die psigiatriese verslag van Valkenberg (Maart 2025) het op hul beurt bevestig dat die beskuldigde by sy gesonde verstand is en daartoe in staat is om in die hof verhoor te word.

LEES OOK: Parliament exposes child-protection gaps in statutory rape crisis

Hoewel die beskuldigde volgens die verslag die erns van die aanklagte teen hom verstaan en begryp, kom hy afwykend voor en toon oppervlakkige berou. Die verslag lui verder die beskuldigde was by tye ontwykend en het sy dade en oortredings as “minder ernstig” afgemaak. Volgens die aanvanklike private sielkundige verslag wys die beskuldigde tekens van obsessief-kompulsiewe steuring. In die mees onlangse psigiatriese verslag is daar geen bewyse dat sy oortredings verwant is aan obsessief-kompulsiewe steuring nie aangesien die beskuldigde daartoe in staat was om oor sy oortredings uit te brei.

Familiebronne meen die saak is van die begin af verkeerd hanteer en groot foute is gemaak – so veel so dat niemand nog tot verantwoording gebring is nie. “Die familie is baie bekommerd dat die beskul-
digde slegs ‘n ligte tikkie oor die vingers gaan kry,” volgens die bron bekend aan die Gazette.

Die proses is juis van stapel gestuur omdat hulle glo ander kinders kan in gevaar wees. Daar word gevrees dat die beskuldigde onder korrektiewe toesig vrygelaat kan word of ‘n straf in die vorm van gemeenskapsdiens sal kry.

Die minimum vonnis per aanklag is 25 jaar, terwyl die maksimum vonnis lewenslank is.

Sy vonnisoplegging is tot 26 Januarie 2026 uitgestel. ‘n Slagoffer-impakverslag word intussen voorberei en sal eersdaags by die hof ingedien word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article