'n Pa van drie dogters is skuldig bevind aan hul verkragting. Foto ter illustrasie.
Die pa wat aan die verkragting van sy drie dogters skuldig bevind is, is steeds nie gevonnis nie. Foto ter illustrasie. Credit: Lukas Gojda Credit: Lukas Gojda

MALMESBURY – Die pa wat reeds skuldig bevind is aan die herhaalde verkragtings van al drie sy dogters, se saak is ná feitlik vyf jaar steeds nie afgehandel nie. Dit volg nadat hy in November 2025 in die Malmesbury-streekhof aan al die aanklagte teen hom skuldig bevind is.

Die saak is tydens die beoogde vonnis-voorverhoor, wat op 26 Januarie in dieselfde hof sou plaasvind, tot 17 Maart uitgestel. Verlede week was die maatskaplike werker wat in die saak moes getuig, sonder enige kennisgewing egter afwesig.

Nasionale maatskaplike werkersdag is verlede week op 17 Maart gevier en volgens aanduidings het menige maatskaplike werker Dinsdag aan feesvieringe deelgeneem. Internetverwysings na maatskaplike werkersdag beskryf dit as ‘n viering van hul toewyding en kundigheid.

Die verkragter, wie se naam weens wetgewing nie gemeld mag word nie, maar aan Swartland Gazette bekend is, en sy prokureur was wel teenwoordig. Hy het die afgelope vyf jaar glo meer as drie keer van prokureur verander.

Die saak het spesifieke belang vir die Swartlandgemeenskap omdat die gesin in ‘n stadium in die Klipheuwel-omgewing gewoon het. Nadat sy misdrywe in 2020 geopenbaar is, is hy in hegtenis geneem en het sy dogters alle kontak met hom verbreek.

Verskeie gemeenskapslede is bekommerd oor sy vonnis omdat die moontlikheid bestaan dat die vonnis bloot korrektiewe toesig sal wees. Hy sal dan in ‘n gewone huis kan woon en steeds met minderjarige kinders in kontak kan kom.

Die maatskaplike werker se verslag moes juis fokus op die wenslikheid van korrektiewe toesig as straf.

Volgens die psigiatriese verslag wat in November aan die hof voorgelê is, besef die skuldige persoon die erns van die aanklagte teen hom, maar probeer hy telkens om homself te verontskuldig.

Volgens die psigiater besef hy hoe ernstig die gevolge van die verkragtings vir sy dogters is, maar hy probeer steeds die negatiewe effekte daarvan afpraat.

Hy het die oudste twee dogters verkrag vandat hulle ses jaar oud is, maar die jongste dogter is sedert haar vierde jaar misbruik.

In reaksie hierop het Sinethemba, die Swartlandse organisasie sonder winsoogmerk en wat op die belange van weerlose mense fokus, onder leiding van Diane Phillips ‘n petisie begin by om die hof te vra vir ‘n streng straf teen hierdie oortreder.

Die petisie duur tot 10 April.

LEES OOK: Pa hét sy biologiese dogters kleintyd verkrag, bevind hof

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article