‘n Voorval waartydens ‘n ouer fisies geraak het met ‘n leerder by die Ebenezer Primêre Skool in die Paarl wat na bewering sy kind vir ‘n geruime tyd geboelie het, word nou deur die polisie en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ondersoek.
Die voorval het Donderdag (11 September) plaasgevind en ‘n video daarvan sirkuleer tans op sosiale media.
In die video kan gesien word hoe, vermoedelik opvoeders, die ouer probeer keer en tot orde roep.
“Dis ‘n kind meneer,” het die een personeellid gesê.
Nog ‘n personeellid, wat vermoedelik die video geneem het, sê in die video dat dit glo nie die eerste keer is dat die ouer met die betrokke leerder fisies raak nie.
“Meneer dis die tweede keer. Meneer het dit mos klaar gedoen.
“Meneer het mos die vorige keer vir hom so seer kom maak op die skool. Ons het dit op kamera,” lui die personeellid se stem.
Luidens sosiale media plasings na afloop van die voorval het die ouer beweer sy kind was glo vir ‘n geruime tyd geboelie en dat hy keelvol was dat die skool nie opgetree het nie.
Die WKOD het by navraag bevestig dat hy kennis dra van die “ontstellende voorval”.
“Distriksamptenare, insluitend psigo-sosiale ondersteuning, was reeds by die skool om ondersoek in te stel en die nodige beradingsondersteuning te bied.
“Die skool het al die protokolle in plek gevolg en die saak is na die polisie verwys,” het Bronagh Hammond, ‘n WKOD-woordvoerder Vrydag gesê.
Volgens Hammond het die ouer toegang tot die terrein verkry toe leerders aan die einde van die skooldag verdaag het.
“Die hek was dus oop. Daar was opvoeders aan diens by die hek wat die voorval aanskou het.
“Die skool spreek die protokolle aan met betrekking tot toegangsbeheermaatreëls.
“Die skool spreek ook die boelie-voorval aan en die nodige beradingsondersteuning is verskaf,” het sy bygevoeg.
Navrae oor die voorval is aan die Paarl-Oos-polisie gerig wie se terugvoering bygevoeg sal word.


