Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum. FOTO: Lientjie Mentz
Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum. FOTO: Lientjie Mentz

Oorlogsmuseum SA se voorkeur-erfenisbestemming


BLOEMFONTEIN – Die Oorlogsmuseum het die Nelson Mandela Capture Site in KwaZulu-Natal as die land se voorkeur-erfenisbestemming uitgestof.

Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein, het Vrydag die eerbewys van die Nasionale Erfenisraad van Suid-Afrika (NHC) in Mbombela in ontvangs geneem.

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke is bekroon as beste erfenisbestemming in Suid-Afrika. FOTO: Lientjie mentz

Die wenners van die NHC se Golden Shield Heritage Awards wat in samewerking met Mpumalanga se departement van kultuur, sport en ontspanning aangebied is, is Vrydag 25 September aangewys.

Die eerbewyse vier individue, organisasies en gemeenskappe wat ‘n besonderse bydra maak tot die bewaring, beskerming en bevordering van Suid-Afrika se ryk diverse erfenis.

Pretorius sê die ontvangs van die eerbewys was ‘n besonderse ervaring. “Dit beteken vir ons museum regtig baie. Om te kompeteer met die Nelson Mandela-erfenisterrein wys net hoe hoog die standaard van hierdie erkennings is.”

Pretorius sê die eerbewys is nie net erkenning vir jare se harde werk nie, dit is ook ‘n erkenning van die vlak waarop die museum nasionaal geag word.

Pretorius glo ‘n museum mag nooit stagneer nie. “Daar moet altyd iets nuut wees. Ons fokus is om ‘n verskil te maak.”

Ter viering van erfenismaand
Ter viering van erfenismaand, het die Oorlogsmuseum die geskiedkundige pophuis op die terrein laat opknap. Hennie van Zyl was nou betrokke by die opknapping van die pophuis. FOTO: Lientjie Mentz

Die museum het die afgelope jaar weer talle nuwe projekte gepak soos die opening van ‘n replika van ‘n blokhuis op Tierpoort wat hier opgerig is, die Pophuis uit 1914 wat pas opgeknap is, talle kunsuitstallings asook publikasies waarvan sommige baanbrekerswerk is.

“Sonder die harde werk van die span by die museum, sou hierdie prestasie nie moontlik gewees het nie. Die mense se harte is in dit wat hier aan die publiek gebied word. Hulle is hoogs bekwaam en gemotiveer en huiwer nooit om die ekstra myl te loop nie.”

Die museum het vir die 2025-’26 geldjaar weer ‘n skoon oudit gekry. Die museum spog al die afgelope 16 jaar daarmee dat daar geen verkwiste inkomste is nie.

Pretorius sê die uitstallings, verbetering, en uitbreidings is grootliks danksy donateurs. Die museum doen baanbrekerswerk om in pas te bly om die geskiedenis in verband te bring met hedendaagse uitdagings. Daar is digitale uitstallings, heelwat video’s en aktiwiteite soos spooktoere wat die geskiedenis hier lewend hou.

Hy sê hulle sien baie uit na die museum se betrokkenheid by die Emily100-fees wat einde Oktober by die Vrouemonument en Oorlogsmuseum aangebied word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article