STELLENBOSCH – Rooijakkalse bly ’n groot uitdaging vir kleinskaalse bestaans- en opkomende boere omdat hulle op skape jag maak en aansienlike veeverliese en finansiële en sielkundige stres veroorsaak. Wettige metodes om hierdie middelrangorde-roofdiere in die voedselketting te beheer, blyk nie die gewenste effek te hê nie.
“Predasie (of plundering) deur rooijakkalse is ’n ingewikkelde probleem vir boere, met min eenvoudige oplossings. Selfs die wyd gebruikte metode van ‘roep en skiet in die nag’ – waar opgeneemde jakkals- en prooi-noodroepe gebruik word om diere nader te lok – het nie die probleem opgelos nie,” sê Megan le Roux, ’n doktorale student in die Laboratorium vir Digitale Seinverwerking in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die DSP-laboratorium word deur professore Riaan Wolhuter en Thomas Niesler bestuur.

Dodelike beheermetodes lei tot verhoogde plundering
“Ekoloë glo ook dat die uitdun van jakkalse hul komplekse sosiale stelsel ontwrig, wat dikwels tot gevolg het dat jonger wyfies voortplant en ander jakkalse intrek en die gebied eis. Bewyse dui daarop dat dodelike beheermetodes tot verhoogde predasie kan lei.”
Le Roux wys daarop dat rooijakkalsgetalle aansienlik in Suid-Afrika se veeboerderygebiede toegeneem het, heel waarskynlik weens ’n verlies aan natuurlike habitat en ’n gepaardgaande afname in natuurlike vyande.
Biotelemetriestelsel dra by om gedragspatrone te versterk
As deel van haar onlangse meestersgraad in elektroniese ingenieurswese aan die US, het Le Roux ’n biotelemetriestelsel ontwikkel wat natuurlewe in landbougebiede op ’n afstand monitor en videobeelde en omgewingsdata oor hulle gedrag versamel.
“Aangesien rooijakkalse opportunistiese en hoogs aanpasbare jagters is wie se teelgewoontes, tydsberekening en werpselgroottes van die beskikbaarheid van kos afhang, kan hierdie stelsel boere en omgewings- en natuurlewebioloë help om hulle gedragspatrone beter te verstaan,” sê sy.
Die stelsel, wat bestaan uit ’n netwerk van draadlose sensornodes, sluit ’n video-opnemer, omgewingsensors, ’n aanlyn databergingsplatform (Google Drive) en ’n toegangspuntnode in wat Wi-Fi-verbinding aan die stelsel bied. Slegs die toegangspuntnode benodig internetverbinding via LTE, die tegnologie agter die meeste 4G-selfoonnetwerke. Dit maak die ontplooiing van die stelsel moontlik in gebiede met lae netwerkdekking.
Le Roux het simulasiesagteware gebruik om die stelsel eers te toets, waarna dit op ’n landelike plaas en ’n perdeplaas geïnstalleer is. Die draadlose sensornodes is op vaste posisies op die plase aangebring om videomateriaal van jakkalse te versamel en omgewingstoestande te monitor. Hierdie nodes het geïntegreerde Wi-Fi-netwerktoerusting vir langafstandkommunikasie sowel as verskeie sensors bevat.
LEES OOK: Veldbokprojek betree nuwe fase met deelname aan veilings
Stelsel betroubaar in dag en nag
Sy sê veldtoetse het getoon dat die stelsel betroubaar en outomaties videomateriaal kan vaslê, in die daglig sowel as in die nag, wanneer beweging opgespoor word.
“Aangesien rooijakkalse hoofsaaklik snags aktief is, is elke node toegerus met draadlose kameras wat beeldmateriaal in uiters swak ligtoestande kan vasvang. Die sensornodes dra die versamelde data individueel na Google Drive oor via die internettoegang wat vanaf die toegangspuntnode uitgesaai word.
“Die stelsel het ook omgewingsdata, insluitend temperatuur- en humiditeitslesings, met gereelde tussenposes versamel. Oor ’n tydperk van vyf dae het die stelsel 709 videogrepe van 30 sekondes elk suksesvol na Google Drive oorgedra – ’n totaal van 1,3 gigagrepe (1 318 MB) se data.”
Le Roux sê die biotelemetriestelsel kon dit sonder enige menslike ingryping doen: “Terwyl die meeste tradisionele kamerastrikstelsels battery-onderhoud met die hand en die fisieke insameling van SD-kaarte vir data-onttrekking vereis, is sensornodes in my stelsel so ontwerp dat omgewingsdatavaslegging, bewegingsopsporing en die daaropvolgende video-opname, sowel as data-oordrag, alles binne die stelsel geoutomatiseer is.
“Beweging word deur ’n passiewe infrarooisensor opgespoor, wat die stelsel aktiveer om outomaties videogrepe van 30 sekondes te begin opneem. Die video-opname word dan deur die stelsel verwerk en na Google Drive oorgedra.
“Alle nodes het ook identiese sonkragtoerusting om onafhanklikheid van die kragnetwerk te bied, wat die behoefte aan menslike instandhouding tot die minimum beperk.”
Videodata gebruik as navorsingsmateriaal
Le Roux sê die stelsel kan moontlik groot hoeveelhede videodata oor die jag-, voer- en teelpatrone van rooijakkalse en ander mesopredatore in landbougebiede bydra.
“Hierdie bykomende navorsingsmateriaal kan op langtermyn die ontwikkeling van meer eties aanvaarbare en ekologies volhoubare praktyke om probleemdiere te bestuur, ondersteun.”





You must be logged in to post a comment.