Skoolonderrig sal Dinsdag 15 September in alle distrikte van die Noord-Kaap hervat word ná sommige skole Maandag gesluit was weens die geel vlak 4-weerwaarskuwing wat veral vir die Namakwa-distrik uitgereik is.
“Na aanleiding van die evaluering en verslae wat van alle distrikte ontvang is, kan die Noord-Kaapse departement van onderwys bevestig dat skoolonderrig op Dinsdag 15 September sal hervat. Opvoeders en leerders word verwag om na hul onderskeie skole terug te keer en onderrig- en leeraktiwiteite soos normaal te hervat,” sê Geoffrey van der Merwe, mediawoordvoerder, in ‘n verklaring.
Van der Merwe sê die departement het ‘n evaluering in al die distrikte uitgevoer na aanleiding van swaar reënval wat Maandag in sekere dele van die provinsie aangeteken is. Die evaluering is onderneem om vas te stel in watter mate die reënval skole geraak het, asook hoe dit moontlik leerders en opvoeders kan beïnvloed om normale onderrig en leer veilig te hervat.
Die departement besef dat die sluiting van skole in die Namakwa-distrik, sowel as die hoë afwesigheid wat in die ZF Mgcawu-distrik aangeteken is, tot ‘n verlies aan waardevolle onderrig- en leertyd gelei het.
Vir die rede sal die departement met die betrokke distrikskantore skakel oor die ontwikkeling en implementering van ‘n kurrikulumherstelplan. Waar eksamens geraak is, sal nuwe datums aan betrokke leerders verskaf word om hul voorbereidende matriekeksamens te voltooi.
Van der Merwe sê die departement bly toegewyd tot voortgesette onderrig en leer, terwyl die veiligheid en welstand van leerders en opvoeders oor die provinsie heen vooropgestel word.
LEES OOK: Geel vlak 4-weerwaarskuwing lei tot sluiting van skole in Namakwa-distrik





You must be logged in to post a comment.