Die o.19A-rugbyspan van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het vanjaar die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks onoorwonne afgesluit en die beker op uitstekende prestasies vir dié reeks wat in Februarie begin het, gelig.
Diamantveld is ook as die algehele wenner van die rugby-afdeling op ‘n glansgeleentheid by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein op Maandag 25 Augustus aangewys.

Sentraal is as die algehele wenner aangewys ná die hoogs mededingende reeks wat in Augustus tot ‘n einde gekom het. Dié skool spog ook as die ontvanger van die netbalbeker, terwyl sy o.19A-netbalspan ook sy afdeling gewen het.
In die hokkie-afdeling is die Hoërskool Jim Fouché, ook van Bloemfontein, as die algehele hokkiewenner aangewys. Jim Fouché is ook die wenner in die seunshokkie-afdeling, met sy o.19A-seunshokkiespan wat die res streepsuiker gegee het. Die Hoërskool Witteberg van Bethlehem het die o.19A-meisiesafdeling in hokkie gewen, terwyl die Bethlehem Voortrekker Hoërskool die afdeling vir meisieshokkie gewen het.
Volgens schoolboyrugby.co.za is Diamantveld in 2018 en 2024 as rugbykampioene gekroon. In 2019 was die Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) wenners, in 2022 was BVHS en Hoërskool Witteberg gesamentlike wenners, en in 2023 was dit die Hoërskool Fichardtpark se beurt.
Agt hoërskole van die Vrystaat en Noord-Kaap het vanjaar meegeding, met sowat 429 leerlinge per skool. Tydens die toernooi is 28 interskool-naweke beslis en 96 hokkie-, 112 netbal- en 72 rugbyspanne het in totaal deelgeneem.
Opwindende skolesport is steeds die hooffokus van die reeks.







You must be logged in to post a comment.