Buitengewone wolkformasies was deel van die welkome reën wat die afgelope tyd wydverspreid oor groot dele van die Noord-Kaap voorgekom het.
Die vreugde om dié wolkformasies saam met die reën te beleef is duidelik sigbaar in talle foto’s hiervan wat op sosialemediaplatforms gedeel word.
“Die damme is vol, die veld is groen en die skaap raak vet. Wat ‘n heerlikheid na 10 droë jare!” Só skryf Marika du Toit-van Heerden op die Facebook-blad SA Reënvalverslae ná 30mm tot 60mm reën Vrydag 27 Maart op verskillende dele van die plaas Holboordskolk tussen Kenhardt en Vanwyksvlei uitgesak het. Dit volg ná ongeveer 90mm reën so vyf weke gelede. Oor die naweek is nog 40mm reën in die omgewing aangeteken, skryf Du Toit-van Heerden.
‘n Volgeling op die Facebook-blad skryf dat hulle verlede week deur die Boesmanland gery het, en dat die veld pragtig is ná die goeie reën.

‘Jaloersbuie’ in steeds droë omgewing
Op die Facebook-blad Boesmalaners verskyn die volgende plasing oor die reën wat daar geval het: “Die Boesmanland is net so dankbaar soos sy mense”.
Tydens die onlangse Boesmanland Camino, soos gesien op die Facebook-blad Tankwa Camino, het die stappers “paaldans” gedoen tydens ‘n reën- en haelbui by Dabidas, net na Kliprand. Die staptog strek oor 283km en begin op Calvinia en eindig by Garies. Dit was glo ‘n groot geklou en dans aan die kombuistent se pale om te keer dat dié wegwaai.
Danie Pieterse wie die staptogte aanbied, sê die reën was ‘n heerlikheid ná vyf dae van warm kry waar die dagtemperature soms tot so hoog as 39oC gestyg het. Deel van die reënbui-ervaring was ‘n “groot geskrik” toe weerlig ‘n elektriese transformator op ‘n kragpaal naby hulle raakgeslaan het, en dit net vonke en ligte was. Gelukkig het geen brand ontstaan nie.
Hy sê hoewel dit net 8mm gereën het waar hulle was, het dit in dieselfde tyd 25mm in Calvinia gereën.
Volgens hom is ‘n groot deel van die Loeriesfontein-omgewing nog geweldig droog, en dat net “jaloersbuie” – verspreide donderbuie – plek-plek geval het.
“Ek weet werklik nie hoe die mense nog aan die gang bly nie,” sê hy.

Dankbaar vir goeie reën
Lara Cox van ‘n plaas tussen Kimberley en Schmidtsdrift vertel dat goeie reën die laaste ruk ook in hul omgewing uitgesak het, opgevolg met nog 30mm oor Vrydag en Saterdag. Sondag 29 Maart het grys wolke met ‘n buitengewone formasie op hul horison verskyn. Hoewel dit geweldig indrukwekkend was, het dit nie toe werklik gereën nie, en dié formasie het vinnig verdwyn, vertel Cox.

“Kalahari dankbaarheid na mildelike reën”. Dit is die woorde van Pieter Kotzé van McCarthysrust teen die Botswana-grens. Hy skryf dat 95mm reën op 28 Maart hier neergesak het. Dit is uiterse welkome opvolgreën na die ongeveer 158mm wat laat in Februarie hier aangeteken is.
Hugo Vorster van Victoria-Wes kan skaars voorbly om die reënval in en om die dorp na onderskeie Facebook-plasings deur te stuur. In Maart het nagenoeg 49mm in goeie tussenposes uitgesak, terwyl dit in Februarie ook mildelik hier gereën het.
LEES OOK: KKNK-feesgangers: Meiringspoort oop ná oorstromings; Swartbergpas nog toe

Vir die afgelope naweek is die volgende reënvalsyfers van opvolgreën onder meer aangeteken: Barkly-Wes: 6mm, De Aar 4mm, Deben 13mm, Hanover 2mm, Kimberley 7mm, Kuruman 12mm, Noupoort 5m, Orania 8mm, Postmasburg 5mm, Jan Kempdorp 16mm, en Prieska 9mm.

Reën wydverspreid, mildelik in Botswana en Namibië
Intussen het Botswana se ministerie van omgewingsake en toerisme op 26 Maart aangekondig dat die heropening van Moremi-wildreservaat ná die oorstromings van paaie uitgestel is. Die park is drie weke gelede vir toeriste wat met voertuie beweeg, gesluit. Die reservaat sou aanvanklik op 27 Maart heropen. Slegs lugverkeer is toegelaat.
Volgens die ministerie dra voortdurende reën daartoe by dat verskeie roetes steeds oorstroom is en moeilik begaanbaar is.
LEES OOK: Flooding forces three-week closure of Botswana’s Moremi Game Reserve
Ook in Namibië het wydverspreide reën voorgekom en ‘n video wat op sosialemediaplatforms gedeel word, wys ‘n seldsame gesig by Hidden Valley naby Twyfelfontein. Die goeie reënval het ‘n rivier en waterval in die droë landskap geskep. Dit word as ‘n ongewone verskynsel in dié streek beskou wat bekend is vir droë toestande en yl reënval.
Volgens ‘n plasing op die Facebook-blad Namibië Reën / Weer het 86mm reën op 24 Maart binne in ‘n uur in die Rehoboth-omgewing geval.
Die Victoria-watervalle, sigbaar vanaf Zimbabwe en Zambië, is tans ‘n dramatiese skouspel met beduidende sproei waarvoor ‘n reënjas nodig is, reënboë en ‘n massiewe aaneenlopende waterval van ongeveer 1 700 meter breed. Welige plantegroei is deel van die donderende skouspel.
Terug op eie bodem doen die Noord-Kaapse Augrabies-waterval in die Augrabies- Nasionale Park sy naam deeglik gestand as die “Plek van groot geraas” en volgelinge op die park se Facebook-blad word gereeld oor die stand van die vloei ingelig.
Nog reën in die vooruitsig
Gegrond op seisoenale klimaatvooruitsigte vir vroeg 2026, dui die langtermynvoorspelling vir Namibië, Botswana en die Noord-Kaap op ‘n algemeen natter as gewoonlik somer en vroegherfs. Daar is selfs ‘n moontlikheid dat swaarder reën tot so laat as Mei vanjaar kan voortduur.






You must be logged in to post a comment.