Woorde kan vernietigend én bemoedigend wees, soveel so dat ‘n skrywer ‘n aangrypende boek kan skryf net oor hegte vroue-vriendskappe en die ontwikkeling daarvan “sonder dat ‘n lyksak gereeld toegezip word.”
Só het die skrywer Rozaan de Wet Boer verlede week by Bargain Books in Kimberley die teenwoordiges laat skater by die bekendstelling van haar tweede boek, Is jy orraait, Elizabeth? Haar eerste boek, Uit die hart van ‘n vrou, het in 2019 by Lapa verskyn.
Die Kimberleyse boekwinkel was vol boekliefhebbers en ou vriende van Rozaan en man, Piet Boer, ‘n chirurg wat jare lank in Kimberley gewoon het.
Haar jongste boek handel oor die vriendskap tussen vier getroude vriendinne en hul gesinne. Die vriendinne ondersteun mekaar, hoewel daar ook spanning is vanweë onderliggende persoonlikheidseienskappe en huweliksprobleme.
Een karakter, Elizabeth, het ‘n Down-sindroomseun, genaamd Philip. Rozaan en Piet het ook ‘n Down-sindroomseun wat 35 jaar oud is, asook twee ouer kinders.
“Ek het die Here erg verkwalik toe my seun gebore is, dit was verskriklik moeilik om dit te aanvaar. Maar hy het my, ons hele gesin van die liefde geleer; hoe om kalm te bly, hoe om met deernis op te tree. My seun is ‘n ongelooflike voorreg, ek glo daar moet ‘n monument vir hom en ander soos hy wees. Hy straal gedurig.”
Sy sê haar seun voel trots op die boek waarin hy ‘n groot rol speel. “Hy het gesien hoe ek heeldag soos ‘n malle aan die manuskrip tik. Hy is my maatjie by die huis, my klankbord, want Piet is heeldag by die werk en saans uitgeput.”
Sy skryf uit haar belewingswêreld, dit wat sy ken.
“Dit voed jou. Ek het twee of drie karakters in een gesit. Gebeure, soos die vriendinne in die boek wat die berg uitstap, met een wat verlore raak, het werklik gebeur. Ek het besluit die voortvarende Elizabeth wat daarom verdwaal het, moet vasgevat word.”
Die ander karakters is Mirna, ‘n omgeemens wat minderwaardig is en dit met ‘n kooplus probeer vergoed; Ada, ‘n selfstandige, beterweterige onderwyseres wat ondergeskik aan haar man voel; en nog ‘n vriendin wat graag met die ander se mans flankeer.
Boek gaan oor gevoelens in elke huis, waarde van vriendskappe
“Ek hou van verhale met gesinne of vriende waar daar onderliggende spanning is. Woorde kan net so vernietigend wees soos enige ander spanningspunt. My boek gaan oor gevoelens in elke huis en die waarde van vriendskappe – die omgee en deernis. Daarom is ek ook lief vir stadige verhale, soos in Europese werke, veral Nederlandse verhale.”
Sy skryf intuïtief.
“Ek is nie groot op beplanning nie, maar ek weet wie en wat my karakters is. Hulle kry ‘n absolute lewe van hul eie. Die bloed vloei en die harte klop. Hulle kan my sommer kwaad maak. Ek het geen beheer oor hulle nie.”
Die boek is reeds voor die Covid-19-pandemie klaar geskryf.
“Toe bel ek Tafelberg-uitgewers om te hoor of ek ‘n kans het. Ek wil nou weet of dit die moeite werd is om dit in te stuur. Ek het op die regte oomblik gebel, hulle was op soek na nuwe manuskripte.
“Toe het baie redigering gevolg. Ek moes baie woorde uitvee,” sê sy. “Die pad was glad met die uitgewers. Die span wat saamgewerk het, was wonderlik.”
Oor die volgende boek verklap sy nie veel nie.
“Ek sal egter eendag ook memoires, veral oor my ma se interessante familie, wil skryf.”





