Japie Claassens
Japie Claassens tydens die aanvang van sy moordverhoor. FOTO: NPA

Vioolsdrift-moorde: Beskuldigde sê glo dat hy ‘mense geskiet’ het


UPINGTON – Die lusernboer van Vioolsdrift in die Noord-Kaap wat van die moord op twee van sy vriende aangekla word, het glo aan sy buurman wie hy gevra het om hom na die polisiekantoor te neem, gesê dat hy “mense geskiet” het.

Jacob Dawid Malan (Japie) Claassens (61) word van moord op Coenraad “Coenie” Edward de Beer en James Kriel aangekla ná ‘n skietvoorval in die vroeë oggendure van 31 Oktober 2023 op sy kleinhoewe by Vioolsdrift.

Japie Claassens
‘n Vroeëre foto van Japie (Jacob Dawid Malan) Claassens. FOTO: Facebook

Tydens dié voorval is die 54-jarige De Beer – ‘n prokureur van Knysna, en die 56-jarige Kriel – ‘n sakeman en proteaboer van die Overberg, tydens ‘n skietery gewond. Albei het op 1 November aan hul beserings in die Mediclinic Upington beswyk.

Claassens wat op borgtog vrygelaat is, is ook vir onwettige besit van meer as 200 patrone vir sy gelisensieerde vuurwapen aangekla. Hy pleit onskuldig op die twee moordaanklagte, maar het reeds skuldig op die aanklag vir die besit van die ammunisie gepleit.

Die skietvoorval het plaasgevind toe die twee oorledenes, asook De Beer se seun, Coenraad, en ‘n ou skoolvriend van Claassens, Grant Thompson, die aand van 30 Oktober 2023 op Claassens se hoewe gekuier en oorgeslaap het. Dié vier was na die Richtersveld en Namibië vir ‘n vakansie op pad.

Ken mekaar sedert universiteitsdae

Tydens hofverrigtinge voor regter Lawrence Lever het die 27-jarige De Beer jr. in die rondgaande hooggeregshof getuig dat sy pa, De Beer sr., sedert hul universiteitsdae met Claassens vriende was. Hy en sy pa, asook Thompson en Kriel, het in twee voertuie by Claassens se kleinhoewe opgedaag.

De Beer jr. het getuig dat die beskuldigde aanvanklik baie verwelkomend was en gesê hulle kan enige plek binne of buite sy huis slaap. Hulle het afgepak en De Beer jr. het sy tent opgeslaan, waarna ‘n vuur vir vleisbraai aangesteek is. Drankies is gedrink.

Volgens hom het die beskuldigde die gesprek oorheers en het hy die samesweringsteorieë wat Claassens bespreek het as uiters ekstremisties ervaar. Hy is rondom middernag na sy tent terwyl die ander nog hout op die vuur gepak het.

De Beer jr. het rondom 04:00 tot 04:15 wakker geword van ‘n hulproep deur Kriel wat geskree het dat hy hospitaal toe moet gaan. Hy het vir Kriel langs Thompson se voertuig aan die bestuurskant gekry waar hy vooroor gebuig gestaan het, en hy kon bloed aan Kriel se buikgedeelte sien.

Beskuldigde sê glo: “Ek gee oor…”

Kort hierna het De Beer jr. die beskuldigde uit die huis sien stap wat die woorde: “Ek gee oor…” gesê het.

Volgens De Beer jr. het die beskuldigde die vuurwapen in sy een hand en ammunisie in sy ander hand gehou, en De Beer kon dit by hom afvat.

De Beer jr. het na sy pa gaan soek en hom in die huis op ‘n bed gekry, waar hy wel op sy seun se teenwoordigheid reageer het. Hoewel dit volmaan was, was dit redelik donker in die huis omdat daar nie elektrisiteit is nie.

Die beskuldigde is in ‘n voertuig weg en De Beer jr. is terug in die huis om sy pa te vertel wat gebeur het maar sy pa het “net daar gesit”. Hy het na Thompson gaan soek om die vuurwapen en ammunisie aan hom te oorhandig en het vir Kriel naby die stoep gesien. Kriel het vermoedelik vanaf die voertuig na Thompson wat op die stoep geslaap het, gekruip.

Thompson het die vuurwapen en ammunisie wat De Beer jr. aan hom oorhandig het, neergegooi. De Beer sr. het uit die huis gestap en De Beer jr. het nie die indruk gekry dat sy pa beseer is nie.

De Beer jr. en Thompson het vir Kriel in De Beer sr. se dubbelkajuitvoertuig gelaai. Kriel is op die voorste passasiersitplek ingelaai, terwyl Thompson agterin geklim het en De Beer jr. bestuur het. Hulle is eers na die polisie by Vioolsdrift om die voorval aan te meld. Thompson het by die mediese fasiliteit in Springbok, waar hulle vir Kriel afgelaai het, agtergebly om Kriel se vrou te kontak.

Hierna is De Beer jr. terug na die hoewe om by sy pa uit te kom. Op pad soontoe het hy verby ‘n ambulans gery wat van voor gekom het. Op die hoewe het hy die beskuldigde en ‘n sersant van die polisie teëgekom, maar nie sy pa nie. Dié was in die ambulans waarby hy verby gery het. Hy het eers weer sy pa die aand van die 31ste in die hospitaal in Upington gesien.

Geen skote gehoor nie

In sy getuienis het Thompson vertel dat hy, Kriel en De Beer sr. mekaar in 1986 of 1987 op universiteit ontmoet het. Hy het vir Claassens deur Claassens se jonger broer leer ken wie saam met Thompson op skool was.

Kriel en Thompson was telkemale vantevore op Claassens se hoewe, en De Beer sr. twee keer vantevore. De Beer jr. en die beskuldigde het mekaar op 30 Oktober 2023 vir die eerste keer ontmoet.

Volgens Thompson se waarneming het De Beer jr. en Kriel dagga gerook, en almal het verskillende drankies gedrink.

Thompson het rondom middernag op sy kampmatras op die stoep gaan slaap en is later deur Kriel wakker gemaak waarna Kriel aan hom gesê het dat hy geskiet is en by die hospitaal moet uitkom.

Net soos De Beer jr. het Thompson getuig dat hy nie enige skietery gehoor het nie of daarvan wakker geword het nie.

Beskuldigde vra om na polisiekantoor geneem te word

Adjudant-offisier Z.J. de Lange was die oggend van 31 Oktober op die toneel as ‘n kenner van misdaadtonele. Hy het ‘n 7.65mm P2 Beretta naby die muur van die stoep gekry, asook ‘n boks met lewendige ammunisie en leë patroondoppies.

Dr. Adin Don Surtie het getuig dat hy outopsies op albei oorledenes gedoen het. Kriel het onder meer veelvuldige dermperforasies weens ‘n skietwond gehad, en De Beer sr. ‘n skietwond in die buik.

Johan Fribus, die beskuldigde se buurman, het getuig dat hy rondom 04:00 opgestaan het om koffie te maak en toe dofweg ‘n skoot gehoor het. Hy het uit sy huis gegaan, en nog skote gehoor, waarop hy na Claassens geroep het omdat hy gedink het hy word dalk aangeval. Claassens het uiteindelik teruggeroep, en Fribus het met sy voertuig na die beskuldigde se huis gery. Daar gekom, het hy hom aanvanklik nie gesien nie, totdat hy hom naby sy voertuig raakgesien het.

Volgens Fribus het die beskuldigde gevra om hom na die polisiekantoor te neem. In die voertuig het die beskuldigde glo aan hom gesê dat hy “mense geskiet” het. By die polisiekantoor het Fribus buite gebly totdat ‘n polisielid later vir hom gesê het hy kan maar huis toe gaan.

Verhoor hervat in Desember

Claassens se deelsverhoor sal op 2 Desember in die Rondgaande Hooggeregshof in Upington voortgaan. Dit is op 11 September op versoek van die verdediging uitgestel om deskundige getuienis te lewer oor ‘n video-opname wat hulle as bewys wil voorlê. Die Staat het beswaar teen die toelating daarvan sonder bewys van oorspronklikheid en egtheid, gemaak.

Senior advokate, adv. Adéle van Heerden en adv. Quinton Hollander tree namens die Staat op, en adv. Danie Dörfling (SC) namens die beskuldigde.

LEES OOK: Northern Cape farmer apparently kills Knysna lawyer, fellow farmer

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article