Kimberleigh, die hond wat in November 2013 deur ao. John Seeley van die polisie se soek-en reddingseenheid uit die Groot Gat in Kimberley gered en later deur hom aangeneem is, is op Dinsdag 10 Februarie dood nadat sy ʼn aantal gesondheidsprobleme, pyn en lyding ervaar het.
Seeley, wat nie meer in die polisiediens is nie, sê hy is verskriklik hartseer en het nie geweet haar dood sou so pynlik wees nie.
Die hond wat destyds aan ’n pastoor behoort het, het vermoedelik agter meerkatte aan op die terrein van die Groot Gat beland en oor die rand en meer as 70 meter oor kranse in die gat water geval waar sy dae lank was. Sy het kort-kort op ʼn rotslysie gerus.
Sy kon weens veiligheidsredes nie met ‘n helikopter uit die Groot Gat gelig word nie. Sy is na ’n moeisame poging op ’n snikhete dag deur die polisie, bygestaan deur onder meer die DBV, ER24, De Beers en ander rolspelers, gered.

Seeley wat met spesiale toerusting in die water gegaan het, het ’n uur lank met Kimberleigh deurgebring om haar vertroue te wen voordat hy haar in ’n harnas aan sy lyf vasgemaak en teen die loodregte kranse en die steil sanderige rand met ʼn ankerkabel opbeweeg het.
Hoewel daar meer as 100 aansoeke was om haar aan te neem, het Seeley haar aangeneem nadat die oorspronklike eienaar haar aan die DBV geskenk het. Seeley en sy vrou, Brenda, het haar Kimberleigh gedoop.
Storie in boek vasgevang
Seeley se heldedaad is later in Wendy Maartens se kinderboek Kaptein Seeley – Kimberley se waterwoef, vasgevang.
“Kimberleigh het my loopbaan gemaak. Sy het my laat besef wat ’n mens in uiterste omstandighede kan doen, en wat ’n mens kan bereik as jy daad by die woord sit. Ons twee het selfs die Noord-Kapenaar van die Jaar-eerbewys gekry” sê Seeley.
Hy sê sy band met haar het “natuurlik begin toe ek en sy daar onder die Gat was en ek haar moes oortuig dat ek haar gaan uithaal.
“Nadat sy by ons kom bly het, het sy dadelik aangepas, en was soos ʼn engel. Sy het ons lewenswyse verander, iets wat ek nie gedink het ʼn troeteldier kan doen nie. Kimberleigh het ons gesin en familie nader aan mekaar gebring. Sy was die mees intelligente hond wat ons ooit gehad het. My jongste seun Tristan was veral gek oor haar. Sy was liefdevol, en ’n getroue waghond, en het later Brenda se oppasser geword,” sê Seeley.

Hy meen daar sal nooit weer ʼn hond soos Kimberleigh wees nie.
“Natuurlik was sy ʼn kwaai waghond, maar ʼn liefdevolle troeteldier. Sy was gek oor swem in ons swembad, maar kon nie meer teen die einde swem nie. Sy het baie agteruitgegaan weens rug- en heupprobleme en moes gedurig pynpille kry. Sy kon weens katarakke nie meer goed sien nie. Ons vermoed sy was meer as 14 jaar oud.”
Vir Brenda is die verlies van Kimberleigh swaar om te verwerk.
“Sy het baie gely in die laaste tyd, en ons moes haar ronddra. Dit was swaar om te sien dat die lewe nie meer lekker is nie. Sy het veggees gehad, asook baie liefde vir ons hele familie. Ons sal haar nooit vergeet nie.”
Die gesin beplan om ʼn spesiale gedenkplekkie met Kimberleigh se as en haar pootafdruk in die huis of tuin te maak.
LEES OOK: Kameraderie dra lede in reddingsaksie






You must be logged in to post a comment.