Laatlam Kleinsus het haarself die gewoonte aangeleer om ander mense in hul eie taal te groet. Self is sy natuurlik uit huis enkel-Afrikaans, maar deur bietjie moeite het sy dit bemagtig om ander in hul moedertaal te groet.
Dit is veral by tolhekke wat sy soms tot groot pret sal groet in ‘n taal wat sy dink iemand praat en dan vriendelik in Afrikaans teruggegroet word.
Dan het sy verkeerd geraai. Of dikwels in Engels begin om agter te kom sy kon maar net Afrikaans praat.
Wat opmerklik is van haar vriendelike manier van almal groet is watter impak eerste groet op mense het.
Skielik skryf sy eksamen en is af by die skool – as jy deur die tolhek ry sonder haar, mis die mense haar. Vra na haar. Of sy gesond is, of sy môre weer daar is.
Sy het bande gebou met haar vriendelike gegroet elke oggend. Ek begin oplet by die werk as ek by mense verbyloop, watter verskil dit maak as jy net begin groet. Ook in die hysbak, of as jy in die straat by iemand verbyloop.
‘n Mens bou bande, net deur te groet.
‘n Mens hoef nie iemand te ken om te groet nie.
Soms lê die verandering in ‘n mens se leefwêreld nie deur groot dinge nie, ook nie deur noodwendig wat jy gee of bied nie.
Soms kom die grootste verandering deur klein gebare, gewoontes, goeie maniere en doodgewoon net vriendelikheid.
As daar nou iets is wat ons by Laatlam Kleinsus kan leer is groet elke mens wat jou lewenspad kruis. Dit kos niemand niks, maar maak jou skatryk voel.
Op ‘n manier dra jy waarde by tot ‘n ander mens se menswees en se bestaan. Jy het hom of haar erken, raakgesien, gegroet en ‘n mooi dag toegewens.
Mense wil graag ‘n verskil maak, die wêreld verander, reuse dinge doen.
Begin klein – begin almal groet wat oor jou pad kom. So maak jy ‘n verskil.


