Vanuit Philipstown in die Bo-Karoo waar die jaarlikse draadkar grand prix die stof laat staan, en vanuit die Namakwalandse nedersetting Kharkams met sy halfwoestyn-berglandskap as agtergrond, het twee films verrys wat nou vir internasionale eerbewyse benoem is. In albei dié films het plaaslike inwoners boonop gewys dat die rol as akteur natuurlik kom.
Draadkarre ry grand prix
Kinders en jeugdiges van Philipstown wat jaarliks met oorgawe aan die draadkar grand prix met hul handgemaakte draadkarre van afvalmateriaal oor ‘n afstand van ongeveer drie kilometer deelneem, is die hoofkarakters van die dokumentêre film The Philipstown WireCar Grand Prix.
Dié film wat op Prime Video te sien is, is vir ’n Internasionale Emmy-eerbewys vir 2026 benoem. Dit is een van slegs vier produksies wat in die kategorie vir sportdokumentêre vir die 54ste Internasionale Emmy-toekenningsgeleentheid benoem is. Dit is boonop een van slegs twee benoemings vir Suid-Afrika by vanjaar se Emmy’s – die ander benoeming is akteur Ian Roberts se A Kind of Madness.
The Philipstown WireCar Grand Prix ding mee teen Baila, Vini van Brasilië, Temps Mort van Spanje en Tom Daley: 1.6 Seconds van die VK, wat deur Warner Bros. in samewerking met Discovery en die Olympic Channel vervaardig is.
LEES OOK: Philipstown wire-car documentary races to International Emmy nomination
Dié film is deur Accenture Song South Africa in vennootskap met die Philipstown WireCar Foundation geskep, en deur Giant Films vervaardig met die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Paul Ward as regisseur.
Uitvoerende kreatiewe direkteure Cameron Watson en Devin Kennedy sê die doel van die Philipstown-projek was nog altyd om te verseker dat die kinders se verhaal soveel moontlik verskillende mense en instellings bereik.
” ’n Benoeming vir ’n Internasionale Emmy verander die omvang van hierdie sigbaarheid. Dit is ’n buitengewone prestasie. Dit wys hoe ’n werklik uitstekende Suid-Afrikaanse verhaal grense kan oorsteek en aanklank by gehore die wêreld oor kan vind,” sê hulle. Die Emmy-geleentheid vind op 23 November in New York plaas.
Ouma Hettie word aktrise
Vanuit Kharkams kom Variasies op ‘n Tema (Variations on a Theme). Dit is die verhaal van Ouma Hettie wat na haar bokke omsien en op geregtigheid, vergoeding en erkenning vir opofferings wag. Dié film is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 99ste jaarlikse Academy Awards in die kategorie beste internasionale rolprent, volgens ‘n aankondiging van die National Film and Video Foundation, ’n agentskap van die departement van sport, kuns en kultuur. Die beoordelingsproses van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, wat die kortlys vir die gesogte Oscar-finaliste bepaal, vind tans plaas. Die kortlys word op 15 Desember aangekondig.
In dié film wat in sy geheel in Afrikaans verfilm is met die draaiboek en regie gesamentlik deur Jason Jacobs en Devon Delmar, is Jacobs se eie ouma, Hettie Farmer, in ’n hoofrol, met plaaslike gemeenskapslede van Kharkams.
LEES OOK: Namaqualand goat herder’s story takes centre stage in South Africa’s Oscar bid
Die kern van die verhaal is Ouma Hettie, ’n bejaarde bokwagter wat deur die gees van haar oorlede pa gekwel word. Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Native Military Corps gedien en sy vergoeding ná vier jaar se diens was ’n paar stewels en ’n fiets.
Die dorpsbewoners om haar deel hierdie geskiedenis van mans wat met leë hande van die oorlog teruggekeer het. Boonop word hulle geteiken toe bedrieërs die maatskaplike bystandsfonds belowe waarop die gemeenskap al lank wag, en ’n aansoekfooi word vereis. Ouma Hettie skraap bymekaar wat sy kan om daarvoor te betaal. Die bedrieërs verdwyn, en intussen daag haar familie op vir haar 80ste verjaardag. Hulle wil hê sy moet die noukeurige roetine wat sy oor jare van alleenwees opgebou het, laat vaar, haar onafhanklikheid en haar grond prysgee, en na die stad trek. Die film het reeds verskeie internasionale eerbewyse verwerf.
Verhale vanuit Roodepan bly gewild
Intussen gaan Eric Kok van Roodepan in Kimberley wie ‘n bekroonde filmmaker en skrywer van onder meer radiodramas is, voort om sukses op sy front te behaal. Sy film, Boeta kom huis toe, word in November by die Uhuru Filmfees in Mokopane vertoon. Dit is sy tweede vollengte film, en albei het ‘n 100% plaaslike rolverdeling en is in Roodepan verfilm.
Liesbet (2021), sy eerste vollengte film, het vyf eerbewyse ontvang, en het later sy debuut op nasionale televisie gemaak.
LEES OOK: Roodepan-rolprent pryk op kassie



